Weermag verwerp bewerings oor DRK-ontplooiing

Die weermag het bewerings op sosiale media verwerp dat Suid-Afrikaanse soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) vir kwansuise kommersiële gewin ontplooi word. (Argieffoto: Monusco)

Die weermag het bewerings op sosiale media verwerp dat Suid-Afrikaanse soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) vir kwansuise kommersiële gewin ontplooi word. Sommige sosialemediagebruikers voer aan die ontplooiing word gedoen omdat die land, veral die ooste van die DRK, ryk is aan minerale.

“Die weermag wil dit onomwonde stel dat die bewerings op X baie ver van die waarheid verwyder is. Dit is duimsuigery deur diegene wat daarop uit is om die goeie naam van die weermag, en veral die Suid-Afrikaanse regering, te beswadder,” sê Simphiwe Dlamini, woordvoerder van die weermag.

Een van die bewerings wat gemaak word, is dat die weermag nog “nooit in die DRK was om Kongolese te beskerm of negatiewe gewapende groepe te beveg nie”.

“Hulle word ontplooi om myne te beskerm sodat ‘[Suid-Afrikaanse pres. Cyril] Ramaphosa en sy meelopers maklik minerale in die ooste van die land kan plunder’.”

Die weermag het die bewering ten sterkste ontken.

“Ons verwerp die berig in die geheel met die minagting wat dit verdien as absolute onsin. Die berig het geen geloofwaardigheid nie en is nie die papier werd waarop dit geskryf staan nie.”

Die Suid-Afrikaanse soldate is in die DRK ontplooi as deel van die sending van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se sending en die besluit daaroor is verlede jaar by die SAOG-beraad in Nairobi geneem, sê Dlamini.

“Enige inligting oor die besluit by die beraad is beskikbaar vir enige eerlike en geïnteresseerde party.”

Die sending bestaan uit soldate van verskeie lande, waaronder die DRK, om volhoubare vrede en bestendigheid in die ooste van die DRK te bewerkstellig.

“Suid-Afrika is ʼn noemenswaardige rolspeler en lewer ʼn groot bydrae tot vredesendings op die vasteland en elders ter wêreld.”

Die weermag sê die artikel en skrywers daarvan is “agterbaks”, “smadelik” en “oneerbiedig” teenoor almal wat in die DRK ontplooi is ter verdediging van gewone mense van daardie land en streek.

Op rand van oorlog

Die Suid-Afrikaanse soldate is in die DRK ontplooi as deel van die sending van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se sending. (Argieffoto: Monusco)

Spanning tussen die DRK en sy buurland Rwanda bou op en die Verenigde Nasies (VN) het intussen gewaarsku dat die twee lande ʼn tree terug moet neem van die rand van oorlog.

Kinshasha, die VN en sommige Westerse lande voer aan Rwanda ondersteun die M23-rebellegroep in die ooste van die DRK in ʼn poging om beheer oor groot mineralereserwes in die streek te bekom. Dit is ʼn aantyging wat Kigali ontken.

Ná ʼn paar maande van relatiewe kalmte het kwaai gevegte verlede maand weer in die omgewing van Goma, hoofstad van die Noord-Kivu-provinsie, uitgebreek.

“Partye betrokke by die konflik en rolspelers in die streek moet dadelik [vredes-]prosesse hervat – diplomatieke pogings, nie militêre konflik nie, is die enigste weg na ʼn bemiddelde oplossing en volhoubare vrede,” het Robert Wood, ʼn Amerikaanse gesant by die VN, ná ʼn noodvergadering oor die DRK gesê.

Kigali moet ook Rwandese magte uit Kongolese grondgebied onttrek en dadelik enige en alle lugmissielstelsels wat doelbewus op die Monusco-mag gevuur word, verwyder.

  • Bykomende bronne: AFP, X

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

En Israel verskaf wapens aan Rwanda wat dit weer gee vir M23 om teen die SANDF te gebruik.

Anel ·

Man, ou Thabo Mbeki het diamantmyne daar wat deur weermag bewaak moet word.

Manie ·

Eenvoudige toets, het enige Suid-Afrikanse burger ‘n belang in enige myn aktiwiteite in die DRC?

Sobymykoolkop ·

Goeie naam van die weermag en SA regering sê mnr. vir ons.Lag, lag, lag……

Di ·

Persoonlik dink ek nie ons weermag se lede is opgelei vir ENIGE oorlogvoering nie.

capie ·

Delia moenie google nie. Gebruik die Yandex soekenjin. In minder as 1 minuut en ek soek nie verder. Ek cop and paste. Dit is van 2011 so daar sal meer wees. ” DRC President Joseph Kabila’s decree confirming rights to Lake Albert’s oil block 1 and 2 to companies part owned by Khulubuse Zuma embroiled the South African president’s nephew in a legal dispute with a leading oil company operating in Africa, Tullow Oil. “

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.