Wees versigtig vir nat, gladde paaie dié vakansie

‘n Nat Van Reenenspas (Foto: Traffic SA/Twitter)

Die N3-tolkonsessie (N3TC) het diegene wat die langpad tydens die winterskoolvakansie aanpak, gemaan om hul reis met ekstra omsigtigheid te beplan weens ysige temperature, digte mis, sneeu, kwaai wind en veldbrande langs die N3-tolpad.

Die N3-tolroete kronkel deur Gauteng, Mpumalanga, die Vrystaat en KwaZulu-Natal en die weerstoestande in die verskillende provinsies kan blitsig verander, veral in bergagtige gebiede op die roete.

Volgens die N3TC verwag hy hierdie naweek ʼn aansienlike toename in verkeer met skole wat Vrydag vir die vakansie sluit. Hoë verkeersvolumes word dus oor die naweek op die N3 verwag.

Spitsverkeertye op die N3-roete word Vrydag tussen 14:00 en 18:00 en Saterdag tussen 06:00 en 12:00 in ʼn suidelike rigting verwag. Die tolroete sal na verwagting Dinsdag (18 Julie), wanneer skole heropen, weer in ʼn noordelike rigting besig wees.

ʼn Toename in verkeer word ook vir die res van die vakansienaweke in albei rigtings verwag.

Veldbrande

Argieffoto

Groot stukke landelike grond aangrensend aan die N3-tolroete word vir landbou gebruik of vorm deel van natuurlike habitatte.

Volgens Thania Dhoogra, bedryfsbestuurder van die N3-tolkonsessie, is dit hoërisikogebiede vir die uitbreek en verspreiding van wegholbrande, veral gedurende die droë seisoen wat van Junie van Oktober strek.

“As voorsorgmaatreël brand die N3TC jaarliks stroke in die padreserwe, maar wegholbrande is steeds ʼn bedreiging. Ons maak staat op ons bure en padgebruikers om veldbrande te help voorkom,” sê Dhoogra.

“Eenvoudige sorgelose optrede – soos om ʼn brandende sigaretstompie uit ʼn voertuig se venster te gooi of ʼn klein vuurtjie te maak en dit sonder toesig te laat brand – het die potensiaal om groot skade aan eiendom en selfs lewensverlies te veroorsaak.”

Volgens Dhoogra kan wegholbrande baie kilometers ver van die N3-roete opvlam, maar sterk wind kan hierdie brande aandryf en veroorsaak dat dit vinnig oor uitgestrekte gebiede versprei.

In die geval van ʼn veldbrand beveel die N3-tolkonsessie die volgende veiligheidsmaatreëls aan:

  • Verminder dadelik spoed omdat die vlamme en dik rook sigbaarheid kan belemmer.
  • Indien sigbaarheid steeds goed is, wees steeds ekstra waaksaam in die gebied waar die brand woed.
  • Skakel die voertuig se kop- en noodligte op die pad aan en hou dit aan om sigbaar vir aankomende verkeer te wees.
  • Moenie deur digte rook probeer ry nie. Indien sigbaarheid swak is, trek die motor op ʼn veilige plek af en skakel die motor se ligte aan. Moenie in die noodbaan stilhou nie.
  • Hou die motor se vensters en luggate toe.
  • Moet verkieslik nie die voertuig verlaat nie omdat die voertuig die beste beskerming teen hitte en rook kan bied. Indien motoriste die voertuig moet verlaat, moet hulle hul liggaam, mond en oë bedek en so ver moontlik van die vlamme wegkom.
  • Maak ruimte vir noodvoertuie en volg die bevele van verkeers- en veiligheidsbeamptes.

Onweer

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Kouefronte kan ysige weerstoestande, ysreën en sneeu teweegbring, veral in hoogliggende gebiede soos in die Van Reenenpas tussen Ladysmith en Harrismith.

Hierdie weerstoestande veroorsaak weer dat paaie nat en glad is en mis kan sigbaarheid beïnvloed.

“Onweer kan stadigbewegende verkeer, opeenhopings en vertragings tot gevolg hê, wat verder druk op motoriste plaas.

“Indien rytoestande te gevaarlik raak, kan sekere gedeeltes van die roete tydelik gesluit word om verkeersvloei te bestuur.”

Digte mis kan veral snags en vroegoggende tussen Cedara in KwaZulu-Natal en Heidelberg in Gauteng voorkom.

“Die N3TC moedig padgebruikers aan om hul rit uit te stel indien reistoestande weens onweer swak is.”

‘Slaan ag op waarskuwings’

Argieffoto

Motoriste word aangeraai om ag te slaan op veranderende pad- en weerstoestande en hul bestuurstyl daarby aan te pas. Dhoogra versoek motoriste om altyd voorbereid te wees op enige gebeurtenis of noodgeval. “Hou ekstra komberse, warm klere, noodmedikasie, genoeg water, kos en verversings, ʼn flits en selfoonlaaiers in jou voertuig.”

Dhoogra moedig motoriste aan om verkieslik bedags te reis omdat ritte in die aand bykomende uitdagings bied. Dit sluit in verminderde sigbaarheid en die vermoë om spoed en afstand doeltreffend te beoordeel en bestuurders wat snags oormoeg word.

Misdadigers slaan ook meer dikwels in die donker toe.

“Beplan jou roetes noukeurig. Stop by vulstasies of vragmotorstopplekke, en hou ander op hoogte van die roete wat jy neem, hoe jy vorder en jou verwagte aankomstyd.”

  • Enige probleme op die N3 kan by die 24-uur-hulplyn aangemeld word by 0800 63 4357. Volg ook die N3-tolkonsessie op Twitter (@N3Route) vir die jongste verkeersinligting op dié roete.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.