Weke al g’n woord van Bulle se Nkosi

Groot kommer heers oor waar Sbu Nkosi hom bevind. (Argieffoto: Springbokke/Twitter)

Groot kommer heers oor die Bulle- en Springbokvleuel Sbu Nkosi nadat die Blou Bulle Maatskappy al sowat drie weke lank sonder sukses probeer om hom in die hande te kry.

Die 26-jarige Nkosi het in September by die Bulle aangesluit nadat hy vantevore ook vir die Haaie uitgedraf het. Hy het luidens berigte op 14 November laas by die Bulle-kamp aangemeld en nie sy familie – ook sy ma – of die span se bestuur kon sedertdien met hom kontak maak nie.

Nkosi het al geruime tyd las van die beseringspook. Hy is vir die Springbokke se toer na Europa gekies, maar gaan dit misloop weens ʼn ribbesering wat hy in ʼn kragmeting met die Haaie opgedoen het.

Die polisie is klaarblyklik reeds oor die situasie ingelig, het News24 berig.

Jake White, die Bulle se direkteur van rugby, wou by Vrydag se spanaankondiging vir die wedstryd teen Cardiff nie kommentaar lewer toe hy oor Nkosi gevra is nie. “Hoe minder ek sê, hoe beter.”

Intussen groei kommer oor die jong vleuel.

“Al wat ek kan sê, is dat ons hoop hy is veilig ten spyte van sy afsondering,” het Edgar Rathbone, uitvoerende hoof van die Bulle, Saterdag aan News24 gesê.

“Ons probeer hom onophoudelik in die hande kry, maar tot dusver was die pogings onsuksesvol. Almal is werklik bekommerd.”

Volgens die Bulle sal hulle later ʼn verklaring uitreik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.