Welkom-ontvoering: Saak teen verdagte teruggetrek

Steeds vermis: Karl Reich (82). (Foto: Facebook)

Die saak teen die man wat daarvan beskuldig is dat hy die 82-jarige Karl Reich verlede jaar uit sy huis in Welkom in die Noord-Vrystaat ontvoer het, is teruggetrek weens ʼn gebrek aan bewyse.

Mojalefa Tseki (32) is aangekla van ontvoering en het ook tereggestaan op aanklagte van motordiefstal en die diefstal van ʼn selfoon.

Hy het Dinsdag in die hof op Welkom verskyn, waar die saak teen hom weens ʼn gebrek aan bewyse van die rol geskrap is.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het bevestig dat die saak voorlopig teruggetrek is.

Reich het in September verlede jaar raaiselagtig verdwyn. Maroela Media het vroeër berig sy huisalarm het die aand van sy verdwyning afgegaan, maar Reich het die veiligheidsmaatskappy verseker niks skort nie. Die alarm is egter sowat ʼn uur later weer geaktiveer. Later die aand het bure ondersoek ingestel toe hulle sien sy motorhek staan oop en ligte brand.

Sy familie het sedertdien nog nie ʼn dag opgehou soek na hom nie. Hulle het onder meer ʼn hofbevel gekry wat Absa gedwing het om inligting bekend te maak wat aangedui het waar en wanneer die bejaarde se kredietkaart ná sy verdwyning gebruik is. Hulle het ook die hulp van ʼn privaat ondersoeker ingeroep.

Beeldmateriaal van die veiligheidskameras by ʼn motorhawe naby Reich se huis in Jim Fouchépark het gewys mense ry op die dag van sy verdwyning daar met sy twee motors. Beeldmateriaal van kameras by die tolhekke tussen Welkom en Kroonstad het egter niks opgelewer nie.

Reich is tot vandag steeds skoonveld.

Johan Ferreira, sy skoonseun, het vroeër vandag gesê Reich se huis is bykans nog onaangeraak sedert sy verdwyning. “Alles staan nog net so. Dis moeilik. Ek dink ons is op ʼn punt waar ons aanvaar dat hy nie meer lewe nie,” het Ferreira gesê.

Afgesien van die nagmerrie van sy verdwyning is die hantering van Reich se administratiewe sake boonop ook ʼn opdraande stryd. Ferreira het gesê die familie het die afgelope amper agt maande steeds al Reich se rekeninge namens hom vereffen, maar omdat hy vermis is (en nie dood verklaar is nie), is dit bitter moeilik om sake gedoen te kry.

Ferreira het gesê daar was tydens ʼn vroeëre hofverskyning al aanduidings dat die saak teen Tseki waarskynlik laat vaar gaan word.

“Ons is presies waar ons agt maande gelede was. Dis frustrerend, om die minste te sê, maar ons gee nie op nie.”

Ferreira het gesê volgens die polisie volg hulle steeds enige leidrade op wat verband hou met Reich se verdwyning. Sy twee voertuie, wat destyds gesteel is, is nooit gevind nie.

“Die polisie sê dit is ʼn ingewikkelde saak, maar hulle werk daaraan. Ons sal graag afsluiting wil hê. Mense vra ons steeds wat gebeur het, maar ons weet self nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

KaterinaKat ·

Ai my innige simpatie aan die oom se geliefdes. Hartseer, hartseer..Maar ja ek dink ook hy lewe nie meer nie. Oom Karl se geliefdes, my hart gaan uit na julle. Hy is ongetwyfeld in n Soveel beter plek as hierdie besete psigotiese malhuis van n land. Dit neem nie die hartseer weg nie maar dis belangrik om in gedagte te hou.

Helena. ·

Dis n baie hartseer storie..as hy nog lewe, wat is sy kanse om in n goeie kondisie te wees..ek wil nie eens dink aan die behandeling wat hy kry nie..my innige gevoel met sy mense in die onseker tyd.

jaco ·

As die ontvoerde en vermiste man swart was, was die verdagte steeds in aanhouding en so die saak teen hom voortgegaan het. maar nou is die slagoffer “mos maar net wit”, so reg geregtigheid geskied nie eintlik nie.
as jy wit is in SA, pas jouself BAIE GOED op. wees ALTYD paraat, want as jy iets ergs sou oorkom, gaan daar NIE hulp vanaf die regstelsel wees nie.

Bekommerd ·

Hierdie is een van die hartseerste sake. Ek kan nie glo hulle het die een man gevang, maar het die saak teen hom teruggetrek nie. Op grond van wát het hulle hom in die eerste plek in hegtenis geneem? Ek glo nie Karl leef meer nie en ek dink die familie glo ook dat hy dit nie oorleef het nie. Ai, as hulle net die waarheid kan uitvind sodat hulle kan vrede hê. Arme familie. Hoe gaan sy boedel afgehandel word sonder ‘n doodsertifikaat?

Karlahari ·

Wat se voertuie? Met foto’s.
Ja ek weet hulle kan dit oor verf of uitmekaar haal vir parte…..maar miskien net miskien…..
Party voertuie is refeluk uniek of het n spesifieke stamp wat nooit reg gemaak is

Gert van Wierdapark ·

Aangekla vir motor diefstal en van n selfoon? Die rede vir die terugtrek is on-duidelik! Was hy inbesit van albei of wat? Dit wil voorkom of iemand aangejaag het met die ondersoek!

Carl Jordaan ·

Is daar by die SAPD die vermoë of wil om die saak te ondersoek? Gee hulle regtig om. Doen niemand meer hulle werk nie? Is ons voorland privaat ondersoeke omdat ons nie die SAPD kan vertrou nie?

IK ·

Hy is tien teen een gedwing om vir die veiligheidsmaatskappy te sê dat niks verkeerd is.

Dirk ·

Tolhekke tussen Welkom en Kroonstad??? Ek weet nie van dit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.