Wêreldbeker-drome lê in Tafelberg se skadu

Ine-Marí Venter in aksie vir die Proteas. (Foto: Twitter via Saracens Mavericks.)

Wat kan dalk net so indrukwekkend as Tafelberg op ʼn helder sonskyndag wees?

Vir plaaslike sportliefhebbers kan die antwoord op die bogenoemde vraag eintlik heel eenvoudig wees: Protea-netbalsukses, natuurlik!

Die Wêreldbeker-netbaltoernooi begin oor net meer as ʼn maand in Kaapstad en volgens doelskieter Ine-Marí Venter is die Suid-Afrikaners oorgehaal om hul ondersteuners trots te maak.

Drukkokersituasie ofte not.

“Dit is inderdaad ʼn groot taak wat op die spelers en afrigters wag – daar is al baie oor ons tuisbaanvoordeel en moontlike podiumkanse in die media gegons. Tog is dit iets waarna ons almal uitsien; ons wil bitter graag goed doen,” het Venter aan Maroela Media gesê.

In dieselfde asem behoort die teenwoordigheid van ʼn speler se ouers, vriende en familie langs die baan ook die vlerke van die senuweeskoenlapper so ʼn bietjie te knip.

Venter meen die Proteas speel vir mekaar. (Foto: Twitter/ England Netball)

Venter het al vantevore gewys dat sy die druk van ʼn belangrike oomblik in ʼn wedstryd kan hanteer. As een van die Proteas se doelsirkel-skerpskutters – saam met Lenize Potgieter, Lefébre Rademan en kie – beskik sy oor die nodige skittervaardighede wanneer die kollig op sy helderste skyn.

Volgens die 28-jarige speler kan die hegte band onder die Proteas ook ʼn deurslaggewende rol in die toernooi speel.

“Wanneer jy by die Protea-kamp instap voel dit of jy vir jou familie gaan kuier. Ons is ʼn groep wat goed vir mekaar wil speel en daardie verhouding sal ons beslis deur hierdie Wêreldbeker-toernooi dra.”

Dit is juis die esprit de corps onder die Suid-Afrikaanse spelers wat beteken dat persoonlike doelwitte makliker plek vir gesamentlike spandrome maak.

“Ons sal nou – meer as ooit vantevore – op ons beste vir mekaar moet wees; ongeag van wat jou betrokke rol in die span is. Ek wil gereed wees wanneer die span my nodig het.”

Venter speel deesdae haar klubnetbal in Engeland vir die Saracens Mavericks en hoewel dinge nie altyd volgens plan verloop het nie, kon die span sake op ʼn hoë noot afsluit met ʼn stewige vertoning teen die London Pulse.

Venter is een van die spelers wat haar klubnetbal in Engeland speel. (Foto: Twitter)

Die Suid-Afrikaner sukkel juis met ʼn geringe enkelbesering wat sy in die einste wedstryd opgedoen het, maar sy het die versekering gegee dat dit geen invloed op haar voorbereidingswerk vir die internasionale skouspel sal hê nie.

“As ʼn span is ons goed genoeg om ons stempel op die Wêreldbeker-toernooi af te druk. Ons beskik oor die spelers, afrigters, mediese groep en ondersteuners. Dit gaan beslis nie maklik wees nie, maar dit is ʼn uitdaging wat ons opgewonde maak.”

Die Suid-Afrikaners se Wêreldbeker-veldtog begin amptelik op 28 Julie met ʼn wedstryd teen Wallis.

Dalk, net dalk word ʼn Suid-Afrikaanse Wêreldbeker-droom ʼn werklikheid in Tafelberg se skadu.

Protea-groep vir Wêreldbeker: Khanyisa Chawane, Izette Griesel, Phumza Maweni, Bongi Msomi (kaptein), Owethu Ngubane, Refiloe Nketsa, Lenize Potgieter, Karla Pretorius (onderkaptein), Lefébre Rademan, Nicola Smith, Jeanté Strydom, Nichole Taljaard, Elmeré van der Berg, Shadine van der Merwe en Ine-Marí Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.