Wêreldbeker reën dalk sakke vol geld vir Franse

Die Springbokke het die vorige Rugbywêreldbeker gewen. (Foto: Verskaf).

Alles is gereed vir die 2023‑Rugbywêreldbeker om in September in Frankryk af te skop en lede van Frankryk se Wêreldbekerkomitee voorspel die toernooi kan dié land sowat € 50 miljoen (meer as R900 miljoen) in die sak bring.

Die Wêreldbekerraad het Donderdag vergader en die begroting vir vanjaar se Wêreldbeker, waartydens 20 rugbyspanne aan 48 wedstryde sal deelneem, goedgekeur. Frankryk verwag boonop meer as 600 000 buitelandse besoekers in dié tyd.

Jacques Rivoal, president van Frankryk se Wêreldbekerkomitee, sê as alles volgens plan verloop, sal hulle van die meeste geld nóg tydens ʼn Wêreldbeker inpalm. Hierdie geld sal aan Franse rugby bestee word.

Frankryk se maatstaaf was die 2015‑Wêreldbeker in Engeland en die 2007‑Wêreldbeker, ook in Frankryk. Tydens albei hierdie toernooie het die wins sowat €36 miljoen (ongeveer R679 miljoen) beloop. Frankryk se beoogde winsgrens is egter weens verskeie onvoorsiene uitgawes en ʼn verhoging in die rentekoers laer as aanvanklik geraam, aangepas.

Frankryk se nasionale span skop die toernooi op 8 September teen Nieu-Seeland af. Die Springbokke kom op 10 September teen Skotland in Frankryk te staan.

“Daar heers groot opgewondenheid. Alles is onder beheer en op koers vir die toernooi om te begin,” sê Rivoal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Om te dink, die wins wat hulle verwag, gee ons regering vir n sokkerklub.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.