Werkloosheid: Kaapstad die beste, Noordwes die swakste

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Kaapstad het steeds die laagste werkloosheidskoers van alle Suid-Afrikaanse munisipaliteite. Sowat 43 000 nuwe poste is tussen Oktober en Desember 2023 bygevoeg.

Indiensneming het met 7,4% jaar-op-jaar in Kaapstad toegeneem aldus die jongste kwartaallikse arbeidsmagpeiling (QLFS) van Statistieke Suid-Afrika vir die vierde kwartaal van 2023.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, sê sy provinsie is boonop nou net minder as 0,4% weg van ʼn werkloosheidskoers van minder as 20%. Werkloosheid het op 20,3% gestaan in die vierde kwartaal van 2023.

Volgens die QLFS het die Wes-Kaap die laagste werkloosheidskoers in die land (20,3%), die laagste uitgebreide werkloosheidskoers (25,6%), die hoogste arbeidsabsorpsiekoers (55,0%) en die hoogste arbeidsmag-deelnamekoers (69,0%).

“ʼn Rekord van 1,788 miljoen mense is nou in Kaapstad in diens, die hoogste getal sedert Stats SA die eerste herontwerpte QLFS in 2008 gepubliseer het,” voeg Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, by.

“Altesaam 363 000 poste is in Kaapstad geskep sedert die huidige plaaslikeregeringstermyn in November 2021 begin het. Ek word hierdeur bemoedig. Alles wat ons doen het ten doel om die ekonomie vinniger te laat groei sodat ons meer mense uit armoede kan ophef en in diens kan neem. Hierdie syfers wys ons is op die regte koers.”

Hill-Lewis sê talle van die 43 000 nuwe poste is Kaapstad-inwoners wat nog nooit vantevore gewerk het nie. “Verbeel jou die lewensveranderende mag om vir die eerste keer self te kan werk en ʼn inkomste te kan verdien. Dit is regtig wonderlik om dit in ons stad te sien gebeur.”

Kaapstad sal oor die volgende drie jaar R43 miljard aan infrastruktuur spandeer. Volgens hom is dit meer as Johannesburg en Durban tesame. “Dit sal na verwagting 135 000 poste skep, buiten die talle ander ekonomiese voordele wat met verbeterde infrastruktuur gepaard gaan.”

James Vos, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei, sê die toename is in lyn met geteikende veldtogte en inisiatiewe wat toerismegeleenthede aangevuur het.

“Kaapstad het ʼn massiewe toename in reisigers in Desember beleef. Ons lughawe het ʼn rekordgetal van 317 000 internasionale retoervlug-passasiers geprosesseer. ʼn Geraamde R1,9 miljard in buitelandse direkte toerismespandering is in daardie maand by die provinsiale ekonomie bygevoeg, waarvan die grootste deel vir Kaapstad aangewend word.”

Kaapstad se vlagskip-indiensnemingsprogram Jobs Connect het ʼn sentrale rol gespeel in ʼn veldtog wat van September tot Desember van stapel gestuur is om 10 000 Kaapstad-inwoners te help om indiensnemingsgeleenthede te vind.

“Die veldtog het 12 914 werksgeleenthede vir Kapenaars verseker. Die meerderheid hiervan, 9 147 poste, was in oproepsentrums reg oor die metro en het via CapeBPO gekom, die strategiese vennoot wat die Wes-Kaap en Kaapstad se oproepsentrumbedryf uitbou.”

Noordwes se werkloosheid styg tot 52,2%

Leon Basson, provinsiale leier van die DA in Noordwes, sê die skokkende nuus dat die provinsie se werkloosheidkoers tot 52,2% gestyg het, bewys dat die ANC-geleide regering wil hê elke inwoner in dié provinsie moet hul werk verloor.

“Noordwes behou sy plek as die provinsie met die hoogste werkloosheidskoers in Suid-Afrika volgens die QLFS. Daar is vandag meer mense sonder werk in Noordwes as in 2008. In 2008 het die werkloosheidskoers op 22% gestaan. Dit beteken dat, uit ʼn werkende ouderdom-bevolking van 1,1 miljoen volwassenes, het 911 000 mense ʼn werk gehad en 257 000 was werkloos.

“Vandag, met ʼn werkloosheidkoers van 52,2% volgens die uitgebreide definisie, het slegs 912 000 Noordwes-inwoners ʼn werk terwyl 996 000 nie ʼn werk het nie (uit ʼn werkende ouderdom-bevolking van 1,9 miljoen).”

Basson sê die ANC-regering se mislukkings die afgelope drie dekades om nuwe poste te skep beteken dat daar vandag 739 000 meer mense is as in 2008 wat eenvoudig nie ʼn werk kan kry nie, ondanks die feit dat enorme welvaart en talent in Noordwes opgesluit is.

“Terwyl die ANC die provinsiale ekonomie in Noordwes smoor en poste laat verdwyn, het die Wes-Kaap slegs die afgelope kwartaal meer as 23 000 nuwe poste geskep. Noordwes het 30 000 poste verloor. Die DA-geleide Wes-Kaap het die laagste werkloosheidskoers in Suid-Afrika omdat ons goed bestuur, infrastruktuur in stand hou en nie korrupsie duld nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

En sonder regstellende aksie vereistes sal die Wes-Kaap nog minder werkloosheid hê. Maar Winde se hoogheilige DA met hulle “skoon regering” het mos ‘n paar terug vir die regstellende aksie wette gestem.

Amelia ·

As Kaapstad die beste is dan verloor ek moed vir die res van die land. Kaapstad is dalk die beste in SA, maar in vergelyking met historiese werkloosheidsyfers is Kaapstad sekerlik baie slegter daaraan toe as vantevore. Ek het nog nooit so baie werklose mense op straat gesien hier rond as in die laaste 5 jaar nie. Dis werklik skokkend.

Republikein in die Wes Kaap ·

Mooi, nog meer migrante gaan nou verkas na die Wes-Kaap. Dit gaan mos lekker hier. Winde moet minder spog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.