Werknemer van Fort Hare in woonstel vasgebind

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n 32-jarige werknemer van die Fort Hare-universiteit in die Oos-Kaap is vandeesweek vasgebind in sy woonstel aangetref.

Die man het Woensdag nie vir werk opgedaag nie en sy kollegas is later die dag na sy woonstel om ondersoek in te stel, waar hulle eindelik op hom afgekom het. Die man se hande was vasgebind en sy mond met kleefband toegeplak.

Die man het nie goed gelyk nie en sy kollegas het hom na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die presiese omstandighede rakende die voorval is egter in dié stadium nog onbekend, sê brig. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie.

Kinana sê geen fisieke beserings is ná die voorval aangemeld nie, maar ’n saak van poging tot moord is aanhangig gemaak.

Enigiemand met inligting rakende die voorval word versoek om die polisie in Alice daarvan in kennis te stel.

Die voorval volg weke ná ’n beplande sluipmoordpoging op prof. Sakhela Buhlungu, visekanselier van die Fort Hare-universiteit. Mboneli Vesele, Buhlungu se amptelike veiligheidswag, is tydens die voorval in sy voertuig doodgeskiet.

Kinana het dit egter Donderdag duidelik gestel dat die jongste aanval glad nie met die moord op Vesele of enige ander aanvalle op werknemers verbind word nie.

Maroela Media het vroeër berig Vesele se moord word moontlik verbind met korrupsie by Fort Hare sowel as die moord op die universiteit se vervoer-en-vlootbestuurder, Petrus Roets. Roets is in Mei verlede jaar doodgeskiet op pad van die werk af huis toe.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) is einde verlede jaar aangestel om bewerings van korrupsie en wanadministrasie met verskeie kontrakte en die onreëlmatige toekenning van honneursgrade by die universiteit te ondersoek.

Die ondersoek is sedertdien uitgebrei na vier tenderkontrakte wat verband hou met skoonmaak, studenteverblyf en die aanstelling van diensverskaffers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Fort Hare is duidelik nie meer ‘n fort nie met vreemde gebeure wat die hare laat rys. Daar broei ‘n waarheid wat ons nie vertel word nie. Moet nog moorde uitspeel? Is dit nog nie dramaties genoeg vir Hoed om ‘n besoek af te lê nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.