Wes-Kaap sê ‘nee’ vir Karpowership

Een van die kragskepe in Karpowership se vloot. (Foto: Karpowership)

Die Wes-Kaapse regering het besluit dat die belegging in tegnologie van die Turkse kragmaatskappy Karpowership vir ʼn tydperk van 20 jaar nié in die beste belang van die provinsie óf die land is nie.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het vandeesweek by ʼn vergadering van die Wes-Kaapse uitvoerende raad gesê dit is nie gepas om groot hulpbronne in slegs een maatskappy te belê nie.

Winde glo ook nie Karpowership behoort toegelaat te word om so lank in Suid-Afrika te werk nie.

“Karpowership SA (Edms.) Bpk. behoort nie die monopolie gegee te word nie. As ons kragskepe wil insluit in ons pogings om die energiekrisis op te los, moet ons ook ander maatskappye oorweeg, en die tydperk waaroor hulle benut sal word, moet streng beperk word tot vyf jaar, onderworpe aan duidelike riglyne.”

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap (Foto: Alan Winde/Twitter)

Karpowership, wat ʼn vloot kragskepe besit en bedryf, is een van die voorkeurbieërs vir die noodverkryging van 2 000 MW krag ingevolge die risiko-mitigasie- onafhanklike kragverkrygingsprogram (RMIPPPP).

Die Wes-Kaapse leierskap het op sy vergadering besluit dat toekomstige kragopwekking vir die Wes-Kaap van laekoolstof, hernubare tegnologieë moet kom.

Volgens Winde vereis die land se huidige kragkrisis dringende ingrypings wat deursigtig oorweeg moet word. “Ons moet alle lewensvatbare en haalbare opsies ondersoek om ʼn einde te bring aan die kragonderbrekings, maar nie ten koste van ander rolspelers in die energieruimte wat ook die geleentheid gegun moet word om deel te wees van die algehele oplossing nie.”

Kenners het al vroeër vanjaar aangedui dat ʼn 20 jaar lange kontrak met Karpowership Suid-Afrika en sy mense duur te staan gaan kom, het Maroela Media enkele maande gelede berig.

“Enige kragkontrak wat oor twee dekades strek kan nie onder noodverkryging geklassifiseer word nie, maar is eerder deel van ʼn bedrogspul om miljarde rand by Suid-Afrikaners te steel,” het Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, in Mei vanjaar gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Tsek! ·

Ek stem oom Alan! Meer kompetisie nodig en werksepping is van kardinale belang.

domheks ·

Een provinsie het darem verstand. Wonder in watter trog beland die ‘kickbacks’ vir 20 jaar! Dis so goed soos ‘n pension polis. LOL!

Manie ·

Kry eers weer vir Koeberg veilig aan lyn Winde. Waar is die beloofde son en windplase wat beurtkrag moes verlaag en waaroor julle so gespog het of is julle nou te besig om uit te werk wie kamtig die nuwe president gaan wees na volgende jaar se verkiesing?

Piet 6 ·

Koeberg is nie die Wes-Kaap se verantwoordelikheid nie, maar ESKOM ( die ANC ) se verantwoordelikheid.

Son en windplase word nie oornag opgerig nie.

Frank ·

Dit mag jou dalk soos Cyril skok maar die Wes Kaap of DA is nie in beheer van Eskom of Koeberg nie en stel beperkte redenasie vermoe bloot

Mnr De Beer ·

Solank Karpowership van Turkye net nie betrokke word is ons gelukkig.

Bolandse Nooi ·

Manie, jy weet seker dat krag voorsiening (of eerder, NIE-voorsiening) op NASIONALE BASIS “bestuur” word, nè? Jy weet seker dat ESKOM ‘n SOE is, m.a.w. dit val nie onder provinsiale beheer nie; d.w.s. – Alan Winde en die DA-regering se hande is afgekap wat dit die heraansluiting van Koeberg1 voortydig en die oprig van son- en windplase wat aan die nasionale netwerk gekoppel is, aanbetref? As jy dink soos wat jy praat … eish, dan is jy miskien beter af VER WEG uit die Wes-Kaap!

Bolandse Nooi ·

Ja, Liberale Koos … dit verg nie veel om te dink soos wat jy dink nie.

kaplyn ·

Na 20 jaar lig die skepe hulle ankers en vaar weg en ons sit nog steeds sonder krag en die omgewing is vernietig en die ANCis dik gevreet!

Karoo ·

Dis nou, AS ons dit in die eerste plek gekry het…. en teen watter “prys”en ek verwys nie net na Rand en Sent nie.

Bolandse Nooi ·

Jy bedoel ……….. ÁS DAAR NOG ENIGSINS IETS VAN SA OOR IS NA DIE VOLGENDE 20 JAAR …

Hans ·

Iets klink verdag. 2 dekades is darem baie lank vir “noodkrag” oplossing. Xi het dan ooreenkomste en Turkye is nie deel van BRICS+ vir voorkeur handel nie.

annie ·

Hoe lyk dit met ‘n hidrokragstasie by die warmbronne? Vra Rusland hoe doen hulle dit in Kenia. Maar o, nee, Rusland is boos. Hulle is lelik met Zelensky en Biden en 007. Die VSA het mos SA ingebreek met sanksies. Ons moet Biden respekteer. Binnekort is ons ook ‘n republiek soos die Ukraïenem en is John of ek of Zille of Pieter, of, of… die president. Ons sal dit nog uitbaklei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.