Wes-Kaap skop vas teen hernieude afsondering

Premier Alan Winde

“As almal nou hul deel doen, kan ons voortgaan om ons ekonomie oop te hou en nie ons gesondheidstelsel te oorweldig nie. Dit is die uitdaging vir hierdie feestyd wat ons almal moet aanvaar.”

Só het Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, gesê na Zweli Mkhize, minister van gesondheid, se aankondiging dat die land tans ʼn tweede golf van Covid-19-gevalle beleef met meer as 6 000 nuwe gevalle wat Woensdag in die land aangemeld is.

Met die Wes-Kaap wat onlangs as een van die brandpunte aangekondig is, skop die provinsiale regering steeds vas teen ’n moontlike hernieude afsondering.

Mkhize het gesê die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng word nou saam met die Wes-Kaap deur die tweede vlaag geraak. Hy het gesê planne en voorstelle van die provinsies moet aan die nasionale beheerraad voorgelê word vir hersiening en ʼn manier om meer verantwoordelike gedrag aan te moedig, moet gevind word.

“Ek glo die instel van ʼn hernieude afsonderingstydperk is nie die enigste uitweg nie. Dit sal verwoestend vir ons ekonomie wees en ons humanitêre krisis vererger,” sê Winde. “In plaas daarvan kan ons plaaslike ingrypings instel om die verspreiding van die virus te help bekamp.”

Winde sê daar moet ʼn duidelike balans wees tussen lewens te red en om die lewensbestaan van Suid-Afrikaners te verseker.

Hy moedig inwoners ook aan om veral nou alles in hul vermoë te doen om te verhoed dat hulle en hul geliefdes met die virus besmet word, of die virus versprei.

“Die virus gaan nie ook op vakansie hierdie feestyd nie. Dit is steeds in ons midde en versprei daagliks in gemeenskappe reg oor die provinsie en land.”

Die Wes-Kaapse regering het ’n drieledige benadering in plek gestel om die verspreiding van die virus te help bekamp.

Hierdie benadering sluit in dat die provinsie sal voortgaan om deur sy gesondheidsreaksie die nodige sorg aan elke persoon wat dit nodig het te verskaf; om gedragsverandering aan te moedig sodat mense hulself en hul geliefdes teen die virus kan beskerm; en om die toepassing van huidige gesondheidsregulasies te verskerp met die hulp van die Stad Kaapstad, die Wes-Kaapse verkeersdienste, die polisie en die provinsiale drankowerheid.

Winde sê hy het ook die plan by pres. Cyril Ramaphosa en Mkhize ingedien waarin uiteengesit word hoe die provinsie op die tweede vlaag van infeksies sal reageer.

Daar is ʼn duidelike toename in Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap waar nuwe gevalle in die afgelope sewe dae met 53,4% gestyg het in vergelyking met die vorige sewe dae.

Hospitalisasie het sedert middel November skerp toegeneem en Woensdag is ʼn totaal van 1 615 bereik. Die suurstofverbruik in hospitale neem ook toe.

Die aantal gesondheidswerkers wat deur Covid-19 besmet is, neem ook toe en staan tans op 312 aktiewe gevalle.

Die afgelope week het die Wes-Kaap meer toetse gedoen (16 131) as sedert die eerste golf geëindig het. Die getal positiewe toetse wat terugkom, styg deurlopend en is nou meer as 30%. Dit is vinnig op pad na die meer as 40% wat tydens die eerste piek aangeteken is.

Die suidelike en westelike subdistrikte in die provinsie toon veral ’n vinnige toename in gevalle, met die bewegende gemiddelde van sewe dae wat die eerste piek vir albei subdistrikte oorskry. Buiten die metro, toon die landelike streke ’n skerp toename in gevalle. In alle subdistrikte, met die uitsondering van die Tuinroete, bly die gevalle ook styg.

“Ons het die eerste belowende tekens dat die Tuinroete besig is om te stabiliseer in gevalle, wat daarop dui dat hierdie distrik dalk sy piek bereik het. Die distrik begin ook tekens van dalende hospitalisasies en sterftes te toon.”

Hospitale in die provinsie is tans onder uiterse druk en gesondheidswerkers is uitgeput met die toenemende aantal trauma- en Covid-19-gevalle.

Metro-hospitale is tans 81% vol en landelike hospitale 84%. Mense met Covid-19 en mense wat ondersoek word vir die virus maak 10% van die hospitaalopnames in die metro uit en 13% van die hospitaalopnames in die landelike gebiede.

In die loop van die pandemie het die Wes-Kaap ’n aantal stappe gedoen om te verseker dat hul oor die voldoende vermoë beskik om die Covid-19-pandemie die hoof te bied.

Bykomende sorgfasiliteite is deur die loop van die pandemie vir Covid-19-pasiënte beskikbaar gestel. Hierdie fasiliteite sluit in die 338-bed-hospitaal van hoop (Brackengate), die 60-bed Freesia Ward in Mitchells Plain, geskenk deur Gift of the Givers, en meer as 60 beddens is in die Sonstraal-hospitaal in die Kaapse Wynlande beskikbaar gestel.

Brackengate het tans 179 pasiënte, Sonstraal het vyf pasiënte en die Freesia Ward se Covid-19 toegewyde afdeling het 31 pasiënte.

In November het die aantal trauma-opnames in hospitale met 36,2% toegeneem. Die toename in traumagevalle hou verband met die misbruik van alkohol.

“Ons werk om die balans te verseker dat ons gesondheidsorgstelsel nie oorweldig word nie, maar om steeds die ekonomie oop te hou. Ons hou nie van die idee van ’n algehele verbod op alkohol nie, want dit sal die provinsie se restaurantbedryf en landbouverwerkingsekonomie vernietig.

“Die verantwoordelikheid lê ook by elke individu om verantwoordelik op te tree en nie te drink en bestuur nie.”

Stad Kaapstad het ook vandeesweek sy jaarlikse voorbereidingsplan vir die feestyd bekendgestel om ʼn veilige tyd vir inwoners en vakansiegangers te verseker.

Bonginkosi Madikizela, die minister van vervoer en openbare werke, het verlede week Donderdag die provinsie se padveiligheidsveldtog vir die feestyd van stapel gestuur en dit is tans in volle swang. Die veldtog fokus op die bewusmaking van protokols in openbare vervoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johanncb ·

Hóé wreed dit mag klink, ons land se ekonomie kan níé ‘n tweede inperking hanteer nie!

Jaco ·

Al waarmee die DA in die Wes-Kaap dadelik moet ophou, is hulle alewige en oorywerige toets toets toets vir corona. Dit lyk baie mooi na buite, dat die DA die nasionale ANC-regering help om Corona te beveg, maar raai wat: die ANC sien dit nie so nie, want hulle het heel ander planne met Corona inperking wat met ‘n virus NIKS te doen het nie. Die ANC wil die Wes-Kaap streng inperk net om die DA en die wit mense in die Wes-Kaap te onderdruk. So as die DA in die Wes-Kaap so iets wil keer, hou dan net op met dié gedurige toets toets toets vir corona. Dit jaag die syfers net onnodig op. Meeste mense het in elk geval net ligte simptome en herstel self na ‘n paar dae.

Frannie ·

My goeiste, hoe moeilik kan dit wees om mense uit die hospitaal te hou agv alkohol?! Sit die polisie en verkeerspolisie in die strate dat hulle padblokkades kan hou naby plekke waar mense wil suip.
Maak dit duidelik dat mense “designated” bestuurders moet hê.
Sodoende kan die mense in die Restaurante hulle werk behou en die polisie hou hul besig met iets konstruktiefs.

koos10 ·

Frannie, dit is iets wat vir die regering ondenkbaar is. Hoe kan ons landswette nou aan our people afgedwing word? Dis mos nie reg nie. Ons almal weet al teen hierdie tyd dat ons twee stelle wette in hierdie land het.

Baardman ·

Merkwaardig dat die ander provinsies die pandemie nog heeltyd so goed bestuur en hanteer het dat daar nooit melding gemaak word van hulle nie. (sarkasties)

Anoniem ·

Die FOPNUUS boodskappe oor ‘n vlak 4 inperking loop alreeds weer rond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.