Wes-Kaapse dorpe dalk gou beurtkragvry

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde. (Foto: Courtney Africa/ANA)

As die Wes-Kaap sy sin kry, is verskeie dorpe in dié provinsie binnekort dalk heeltemal beurtkragvry.

Wes-Kaapse premier Alan Winde het Woensdag met die Energieraad in die provinsie vergader waar ʼn projek deurgetrap is om beurtkrag in verskeie dorpe met die hulp van sonkrag-aanlegte en batterye te verminder.

Burgemeesters van verskeie munisipaliteite in die provinsie het ook die vergadering bygewoon.

“Ons doel met die projek is om te kyk hoe vinnig ons hierdie sonkragstelsels met batterye by munisipaliteite kan installeer om die dorpe beurtkragvry te maak,” sê Winde.

“Dit is bemoedigend dat soveel munisipaliteite die inisiatief neem om die uitwerking wat die voortslepende kragonderbrekings op ons burgers en ekonomie het, te probeer mitigeer.”

Munisipaliteite moes aan spesifieke kriteria voldoen om vir die projek in aanmerking te kom. Die burgemeesters en hul spanne het voorleggings aan die Energieraad gedoen oor hul vermoë om aan hierdie spesifikasies te voldoen.

ʼn Ontleding van die munisipaliteite se beskikbare tegniese vaardighede sal nou gedoen word, voor die munisipaliteite wat vir die loodsprojek gekies word, volgende maand bekend gemaak word.

Benewens munisipaliteite betrokke by dié projek, werk die provinsiale regering ook saam met vyf ander plaaslike owerhede om hulle te help om beurtkragvry te word deur die Wes-Kaap se munisipale energieveerkragtigheidsprogram (MER).

Die MER-program help munisipaliteite met geld vir energiestudies om private en staatsgedrewe kragprojekte moontlik te maak.

“Die MER-program is die oorkoepelende plan wat die provinsiale regering se benadering tot die beëindiging van kragonderbrekings rig en – saam met ander inisiatiewe – die provinsie posisioneer as die spilpunt vir energieveerkragtigheid,” sê Winde.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ruimtelike beplanning in die Wes-Kaap, sê dit is duidelik dat elke munisipaliteit in die provinsie unieke energiebehoeftes het, maar ondanks die uitdagings sal hulle nuwe hoogtes bereik wanneer hierdie stelsels ontwerp en geïmplementeer word.

“Die departement sal die tegniese en projekbestuurondersteuning aan hierdie munisipaliteite verskaf,” sê hy.

“Ons glo dat dit die verantwoordelikheid van die provinsiale regering is om in infrastruktuur en stelsels te belê wat die private sektor in staat sal stel om te floreer en terselfdertyd plaaslike regerings sal ondersteun met hul mandaat om basiese en noodsaaklike dienste aan ons inwoners te verskaf.”

Mireille Wenger, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede in die Wes-Kaap, sê haar span doen hulle huiswerk om te verseker dat hierdie nuwe kragoplossings verantwoordelik in werking gestel word.

“Ons moet weet hoe om krag van een deel van die netwerk na ʼn ander te skuif, studies doen oor koste daaraan verbonde en elektrisiteitsmeesterplanne instel omdat dit die fondament is waarop meer krag in die netwerk gestoot kan word,” sê sy.

Volgens Winde gaan die kragonderbrekings na alle waarskynlikheid in die wintermaande vererger.

“Ons doel is daarom om soveel as moontlik inwoners en sakeondernemings in die Wes-Kaap te beskerm teen die ergste van beurtkrag, terwyl ons munisipaliteite in staat te stel om ʼn ander vorm van krag te benut,” sê hy.

“Ons streef daarna om die eerste provinsie te wees wat beurtkrag oorwin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Wondermaarnet ·

Ek hoop van harte dat Swartland Munisipaliteit ook deel is van hierdie planne. Ons water is ook af wanneer daar beurtkrag is.

Henry ·

die regering moes lankal son en windkrag gebruik het.
jare gelede het die onnosel unies besluit om al die stede en dorpe se krag stasies te sluit ek het gesè hulle moet dit nie doen nie.
nou jare later pluk hulle die vrugte van hulle onnosel besluit wat hulle geneem het
nou moet hulle nie kla nie maar die gevolge dra

Marcello ·

Wil jou net reghelp, dit was nie die UNIES se besluit nie, maar wel ESKOM s’n. Hou op as iets verkeerd loop, die UNIES te beskuldig. Eskom het die laaste sê.

Marthinus ·

Amerika en Duitsland Wil fondse gee vir groenenergie.Maar die wat Baat uit steenkool roof,Wil net vasklou om hul sakke vol te prop

Goldy ·

As julle dit wil deurvoer en behoe sal julle moet stem vir onafhanklikheid voor die ANC en hulle ondersteuners dit kaap.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wat is die gewone antwoord:”Die ANC sal dit nooit toelaat nie.” Red nou ‘n nasie. Ons is verslaaf aan die ANC.

Gert ·

Daar is n interresante krag storings tegnologie in Shina wat hul nou mee suksesfol eksperimenteer. Hul is besig om weg te doen met batterye weens die onbekostigbare prys van batterye en die uiters negatiewe en skadelike impak daarvan op die omgewing. Lithium ontplof sodra dit met water in aanraking kom , wat al menigde motors, fietse en busse laat spontaan laat begin brand het.
Hulle eksperimenteer met kragkapasitor tegnologie. Dit kos n fraksie van n battery en kan van leeg na vol laai in sekondes en kan meer as een miljoen keer laai. Hul het busse in Shina wat 20km ver kan ry en dan by sekere punte stop om te herlaai. Dit neem huideglik 2 min om te herlaai van 20% tot 100% terwyl passasiers op die bus klim.

Stofdonkie ·

Die krag kan in die dag daar wees as hulle die privaatsektor se sonkrag invoer in die stelsel in deur die dag.

Papsak ·

Ag ons sal nooit so gelukkig wees nie want het jy krag is water af het jy water is krag af ons nou ook sonder water gesit wat nie mag wees nie menseregte skending om mense sonder water te los pateties

S ·

Maar toe Frankfort in die Vrystaat dit probeer het met die vier groot sonplase wat genoeg krag op wek om die dorp se ligte aan te hou gedurende beurtkrag was Eskom hof toe en is hulle verhoed om dit te doen.

Jannie van Niekerk ·

Die ANC en sy skelm ESKOM kaders sal dit nie toelaat nie want hulle wil nie hê mense moet suksesvol bewys dat ESKOM oorbodig kan raak nie, Kyk maar wat het by Frankfort gebeur

Lillian ·

As dorpe nie self gaan begin plan maak nie gaan als inmekaar tuimel in die land. Die regering en hul kaders is nie gepla oor hoe die mooi land van ons verval nie hulle vul net hul sakke met ons swaar verdiende belastinggeld.

Jan ·

Hoekom mag die Sonkrag Stelsel by Frankfort nie krag aan die dorp voorsien nie, maar in die Weskaap mag hulle. Hoe werk dit???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.