Wes-Kaapse wetsontwerp ‘belangrike stap na federering’

tafelberg

Argieffoto

Verlede Vrydag het die staande komitee oor premiers- en grondwetlike aangeleenthede eenparig ingestem om die DA-gerugsteunde Wes-Kaapse Wetsontwerp op Provinsiale Magte aan die provinsiale wetgewer voor te lê wat nou na die speaker van die provinsiale parlement verwys is vir amptelike indiening.

Dié wetsontwerp beoog om die uitoefening van provinsiale magte deur die Wes-Kaapse regering te bevorder deur ʼn raamwerk vir die provinsie te skep om sy bestaande grondwetlike, wetgewende en uitvoerende magte te laat geld, en om die devolusie of delegering van verdere magte van die nasionale regering te bekom.

Prof. Koos Malan, konstitusionele juris verbonde aan die instituut vir konstitusionele dinamika by Sakeliga, meen dié wetsontwerp is eerstens ʼn aanklag teen die nasionale regering en tweedens ʼn belangrike stap na die federering van Suid-Afrika se huidige sentralistiese staat.

Dit beteken in ʼn neutedop dat munisipaliteite en provinsies meer oor hul eie sake sal kan besluit, eerder as om aan die nasionale regering uitgelewer te bly wat in beheer is van amper alles in byna alle provinsies.

Nasionale regering misluk

Die wetsontwerp benadruk in die voorrede die nasionale regering se mislukking weens onbevoegheid of onwilligheid om sy grondwetlike pligte na die kom deur in die beste belang van die Wes-Kaapste burgers op te tree.

“Die land is ʼn toenemend gevaarlike bedreiging vir staatsinstellings en ekonomiese ontwikkeling. Dit het dus noodsaaklik geword dat bevoegde, subnasionale regerings bemagtig word om hulself teen die ANC se mislukkings in die regering te beskerm,” verduidelik Christopher Fry, DA-woordvoerder oor premiers- en grondwetlike aangeleenthede in die Wes-Kaap wat dié wetsontwerp ingedien het.

Hierdie mislukking noodsaak die provinsiale en munisipale regeringsvlakke volgens Fry om die mislukking van die nasionale regering reg te stel deur bestaande leemtes te vul.

“Dit suggereer dat hulle bepaalde verpligtinge wat op die nasionale regering berus, beter kan verrig – dit is nie net magte wat tot die provinsiale regering beperk is nie,” verduidelik Malan.

Prof. Koos Malan

Wat behels die wetsontwerp?

Die wetsontwerp maak voorsiening vir die insluiting van verdere gebiede van provinsiale en plaaslike outonomie en definieer ʼn proses om dit te bereik. Dit stel ʼn oorkoepelende raamwerk waarbinne “vakspesifieke provinsiale wetgewing, voorgestelde nasionale wetgewing en versoeke vir die delegering van nasionale bevoegdhede oorweeg sal word”.

Volgens artikel 2 van die wetsontwerp is die oogmerke daarvan soos volg:

  1. Identifiseer en herstel mislukkings van die nasionale regering;
  2. Bevorder die handhawing van bestaande provinsiale magte;
  3. Streef aktief na die toewysing of delegering van bykomende bevoegdhede;
  4. Gee die Wes-Kaapse regering mandaat om verslae voor te berei en wetsontwerpe op te stel om daardie oogmerke te vervul; en
  5. Skep ʼn meganisme vir die Wes-Kaapse parlement om nasionale wetgewing in die Nasionale Raad van Provinsies in te stel deur sy afgevaardigdes.

Artikel 3 stipuleer die terreine waar groter magte gesoek word:

  • polisiëring;
  • openbare vervoer, insluitend munisipale vervoer;
  • energie, insluitend opwekking, transmissie en retikulasie;
  • handel, insluitend internasionale handel; en
  • hawens, insluitend nasionale hawens.

Die wetsontwerp stipuleer verder “dit aanvaar dat die provinsiale en plaaslike owerhede in die Wes-Kaap ʼn grondwetlike verpligting het om hul bestaande provinsiale en plaaslike magte te laat geld en om bykomende magte te bekom wat nodig is om die grondwetlike regte van al sy inwoners te respekteer, te beskerm en na te kom”.

“Dit gaan buite die bestaande grondwetlike voorsiening vir magte vir provinsies en plaaslike owerhede wat ʼn ongelooflike belangrike element van die wetsontwerp is,” sê Malan.

Talle elemente van die wetsontwerp gee bloot uitdrukking aan die oogmerke van die Wes-Kaapse provinsiale grondwet wat reeds in 1998 bekragtig is; iets wat elke provinsie in harmonie met die nasionale grondwet mag aanvaar, maar nog nét die Wes-Kaap sedert 1994 gedoen het.

Grondwetlike ruimtes opgeneem

Die wetsontwerp bevestig eerstens die reeds bestaande grondwetlike magte waaroor die Wes-Kaapse regering, en elke ander provinsie, beskik soos uiteengesit in bylaes vier en vyf van die Grondwet.

“Een van die oogmerke van die wetsontwerp is om na te gaan of hulle inderdaad reeds al hulle magte voldoende opgeneem het en in soverre hulle dit nog nie gedoen het nie, planne in werking te stel om hierdie magte wel op te neem,” verduidelik Malan.

Die wetsontwerp maak dit ook duidelik dat die nasionale wetgewer, die parlement, kragtens artikel 238 van die Grondwet ook oor die bevoegdheid beskik om bykomende magte aan provinsiale wetgewers te delegeer.

“Dit is besonder belangrik dat daar bepaalde magte is waarvoor die Grondwet nie uitdruklik voorsiening maak nie, wat hulle ook wil opneem,” benadruk Malan.

Volgens Malan is die leidende sentiment van die wetsontwerp dus om die hoogste graad van outonomie binne die provinsie op ʼn dringende en deurlopende basis uit te brei.

Bedekte stryd aangesê

Hoofstuk drie van die Grondwet sit die beginsels vir samewerkende regering tussen die nasionale, provinsiale en plaaslike sfere uiteen wat onder meer insluit om in harmonie saam te leef deur binne hul daargestelde magte te bly.

“Hierdie wetgewing stap buite die beginsels van samewerkende regering en sê die nasionale regering eintlik ʼn nouliks bedekte stryd aan om meer magte te bekom,” meen Malan.

Wapen van die Wes-Kaap (Foto: Wikipedia)

Volgens Malan is dit is ʼn poging om van die Suid-Afrikaanse grondwetlike orde daadwerklik ʼn federale element daaraan toe te voeg –minstens in soverre dit die Wes-Kaap raak – omdat die Wes-Kaapse regering meen die nasionale regering het misluk en die provinsiale regering ʼn beter kans op sukses te staan.

“Dit verleen ʼn adversatiewe eerder as samewerkende karakter aan die Suid-Afrikaanse orde.”

Konstitusionele verandering

Malan meen in die lig hiervan is die wetsontwerp in pas met die konstitusionele diskoers wat die afgelope maande veral in Suid-Afrika bestaan.

“Dié diskoers aanvaar die bestaande grondwetlike orde nie meer as onveranderbare vertrekpunt nie, maar wil eerder die bestaande orde verander en verbeter deur meer magte toe te ken aan laer vlakke van regering wat beter toegerus is om dit op te neem.”

Pad vorentoe

“Indien die wetsontwerp goedgekeur word, sal dit nie net die Wes-Kaap se pogings om groter outonomie te bekom, versterk nie, maar dit sal ook ʼn bloudruk bied vir ander provinsies en plaaslike owerhede om dieselfde roete te volg,” verduidelik Fry.

Malan meen die wetgewing sal beslis deurgevoer word omdat dit net deur die provinsiale parlement van die Wes-Kaap aanvaar moet word.

“In soverre die wetgewing grondwetlik getoets kan word, sal teenstand daarteen ook waarskynlik misluk omdat dit baie vaardig geformuleer is en na my mening ʼn grondwetlike toets sal deurstaan.”

Is ʼn gefedereerde Suid-Afrika dus om die draai?

“Volgens die Grondwet is die Wes-Kaapse regering egter nog ʼn ent daarvan weg om die magte waarop hulle in die wetsontwerp aanspraak maak, daadwerklik op te neem.”

Om sommige van die magte te verkry waarop aanspraak gemaak word in die wetsontwerp, as voorbeeld polisiëringsmagte, moet daar eers ʼn oordrag van die nasionale regering deur middel van artikel 238 van die Grondwet plaasvind.

Dié artikel bepaal:

ʼn Uitvoerende staatsorgaan in enige regeringsfeer kan–

(a) enige bevoegdheid of funksie wat ingevolge wetgewing uitgeoefen of verrig moet word, aan enige ander uitvoerende staatsorgaan delegeer mits die delegering bestaanbaar is met die wetgewing ingevolge waarvan die bevoegdheid uitgeoefen of die funksie verrig word; of

(b) enige bevoegdheid of funksie vir enige ander uitvoerende staatsorgaan op ʼn agentskap- of delegeringsgrondslag uitoefen of verrig.

“Hierdie is moontlik ʼn stok in die speke.”

Volgens Malan sal die nasionale regering nie noodwendig so geredelik nasionale bevoegdhede afwentel nie bloot omdat dit strydig is met hul ideologiese karakter.

Kan ons dus vir eers van federalisme vergeet?

“Die indruk wat ʼn mens kry, is dat die leemtes wat die nasionale regering laat vanweë die noodsaak asook die vermoë van die Wes-Kaapse regering om dit te vul, met tyd bloot gevul gaan word,” sê Malan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Shakespeare ·

Die bose regering sal nie die Wes Kaap iets gun nie want die Wes Kaap is ‘n skandvlek op hulle (ANC) patetiese en mislukte beheer vd res vd land. Hulle wil die Wes Kaap ingetrek hou om ook daar hul verwoesting te saai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.