Wetteloosheid op paaie dié Paasnaweek nie geduld

(Foto: Verskaf)

Met die Paasnaweek om die draai sal die aantal voertuie op verskeie van die land hoofroetes na verwagting skerp toeneem namate reisigers vir ʼn wegbreek oor die langnaweek, familiebyeenkomste of godsdienstige saamtrekke die lang pad aandurf.

Die Paasnaweek word boonop elke jaar ontsier deur die hoeveelheid dodelike motorongelukke wat in hierdie tydperk plaasvind.

Die Outomobiel-assosiasie (AA) sê altesame 161 padsterftes is in 2022 oor die Paastydperk aangeteken. Dit het verlede jaar tot 225 sterftes toegeneem, ʼn toename van byna 40%.

“Die voortdurende stygings en die land se ontstellende jaarlikse padsterftestatistieke maak dit vir Suid-Afrika onmoontlik om die Verenigde Nasies se internasionale padveiligheidsdoelwit, om padsterftes teen 2030 met die helfte te verminder te haal.”

Al meer sterf

Die AA sê hoewel die regering in die verlede verskeie seisoenale padveiligheidsveldtogte van stapel gestuur het, veral oor die Paasnaweek, neem padsterftes in hierdie tydperk steeds toe.

(Foto: Departement van vervoer/X)

“Meer moet gedoen word om die situasie te verbeter. Die regering se ingrypings het ʼn beperkte impak in terme van die vermindering van sterftesyfers. ʼn Nuwe benadering moet toegepas word.”

Florence Radzilani, LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo, sê reisigers is haastig om hul bestemmings te bereik en verhoogde waaksaamheid en strategiese ontplooiing van hulpbronne is van kritieke belang om padongelukke te verminder.

“Verhoogde bewustheid van padverkeersveiligheidskwessies is uiters noodsaaklik en veilige padgebruikersgedrag en vrywillige nakoming aan verkeersreëls moet aangemoedig word.”

Die besigste roetes in hierdie provinsie, wat selfs ure lange vertragings vir motoriste kan veroorsaak, sluit in:

  • Die N1 van Maubane na Beitbrug;
  • Die R101 Pienaarsrivier na Polokwane;
  • Die N11 by Marble Hall na Lephalale;
  • Die R510 by Bela-Bela na Thabazimbi;
  • Die R37 by Polokwane na Burgersfort;
  • Die R579 vanaf Apel Cross na die Moratiwa-kompleks;
  • Die R71 in Polokwane na die R81la Polokwane (Polokwane na Giyani);
  • Die R524 in Makhado na die Krugerwildtuin;
  • Die R521 van Polokwane na Dendron;
  • Die R523 in Wyllispoort na Sibasa;
  • Die R40 tussen Phalaborwa en die Orpenhek; en
  • Die R36 van Tzaneen na die Tunnel-tolhek.

Radzilani sê ʼn sistematiese metodologie sal toegepas word deur padveiligheids- en verkeersbeamptes op strategiese punte te plaas.

“Dit is om ʼn deurlopende teenwoordigheid op al die geïdentifiseerde plekke wat vir ongelukke bekend is, te verseker. In samewerking met die polisie sal ons ʼn reeks padveiligheidsoperasies regdeur die provinsie uitvoer.

“Ons sal in hierdie tydperk geen genade betoon nie teenoor dronk bestuurders, motoriste met oorlaaide en onpadwaardige voertuie en enige ander verkeersoortredings.”

(Foto: Facebook/ Swellendam Municipality -SWEMun)

Radzilani moedig motoriste wat langer ritte onderneem aan om gereeld stil te hou en ʼn blaaskans te neem.

“Bestuurders moet geduldig wees en verdraagsaam teenoor ander motoriste wees, veral by tolhekke op die N1,” sê sy.

(Foto: Departement van vervoer/X)

“Ons doen ook ʼn beroep op voetgangers om sigbare klere te dra wanneer hulle snags stap en dit vermy om te drink en dan te loop.

“Padsterftes ontneem nie net families van hul geliefdes nie, maar knip ook broodwinners se lewe kort. Padveiligheid is almal se verantwoordelikheid. Wees versigtig en oplettend en laat almal sodoende veilig by hul bestemmings kom.”

Solange Soares-Nicholson, woordvoerder van Trac wat die N4-tolpad bedryf, sê statistieke wys dat die Paasnaweek die besigste naweek van die jaar op die roetes tussen Gauteng, Mpumalanga en Maputo in Mosambiek is.

Die besigste tye op hierdie roetes is na verwagting:

  • Donderdag 28 Maart: tussen 11:00 en 20:00;
  • Vrydag 29 Maart: tussen 08:00 en 14:00; en
  • Maandag 1 April: van 09:00 tot 17:00.

Trac doen ʼn beroep op motoriste om hul reise deeglik te beplan om ook vertragings by grensposte “wat tydens Paasfees uiters besig is” te vermy.

(Foto: Departement van vervoer/X)

“Alle padwerke word vir die langnaweek opgeskort, maar konstruksieterreine sal steeds as aktief beskou word.”

Laanbeperkings, waar daar slegs een baan in elke rigting sal wees, sal tussen Malelane en die Malelane-Krugerhek/TSB-afdraai geld, om padwerke in hierdie gebiede te akkommodeer.

“Motoriste word versoek om versigtig te wees en op te let vir padtekens wanneer hulle deur hierdie padkonstruksiegebiede reis.”

Motoriste moet gedrag aanpas

Soares-Nicholson sê nasionale padongelukstatistieke toon dat die meeste motorongelukke aan nalatigheid en swak padgebruikersgedrag te wyte is.

“Trac doen ʼn beroep op almal wat op die roete reis om verantwoordelik en wetsgehoorsaam te wees.”

Die AA sê swak bestuursgedrag kan slegs verander as daar deurlopende toepassing van padverkeerswette en -regulasies is.

“Die regering moet erken dat veldtogte op spesifieke tye van die jaar, hoewel goed bedoel, geen positiewe uitkomste sal lewer as behoorlike verkeerswetstoepassing en padveiligheidsopvoeding nie elke dag toegepas word nie.

“Navorsing deur die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) toon dat padongelukke en -sterftes die ekonomie jaarliks ​​honderde miljarde rande kos. Dit is dus in almal se belang dat meer gedoen word om padveiligheid te verbeter.

“Benewens hierdie finansiële verlies kan die impak op families van die dood van familielede in padongelukke nie bereken word nie en ongelukkig verbeter die situasie in Suid-Afrika nie vinnig genoeg nie,” sê die AA.

Die vereniging sê dit is noodsaaklik dat die regering dringende voorstelle oorweeg om die aantal verkeersbeamptes met minstens 50% te verhoog.

“Sigbare polisiëring landwyd en veral op groot paaie moet verhoog word, padinfrastruktuur moet herstel en in stand hou gehou word, en meer intensiewe padveiligheidsveldtogte moet ingestel word.

“Padveiligheidsveldtogte moet ook regdeur die jaar volgehou word en nie net oor Paasfees of in Desember nie.”

Die AA sê padgebruikers moet ook verantwoordelikheid neem en die padreëls gehoorsaam.

“Geen padveiligheidsveldtogte deur die regering sal slaag as padgebruikers nie ook hul rol speel om die land se paaie veiliger te maak nie.”

(Argieffoto: Arrive Alive)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pierre ·

Moet lekker wees om net twee of drie keer per jaar jou werk te doen, wetteloosheid moet daagliks beveg word.

Patch ·

Dis wat elke jaar gesê word en elke paasnaweek tussen Pretoria en Polokwane maak sekere motoriste sommer hulle eie bane veral aan die einde van die naweek waar hulle terug ry Gauteng toe.
Wanneer mens in die toue by tolhekke staan ry hulle waar hulle wil en 90% betuur met bierblikke in die een hand.
Hoekom sien die publiek dit maar die wetstoepassers mis dit.
Maar soos ons weet is paasnaweek bonus maand as jy polisie of verkeersbeampte is en op die N1 werk.

Fran ·

Ag regtig????? As julle die taxis en die blouligbrigades begin aftrek sal ek dit glo!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.