Wildtuin-drenkeling se liggaam gerepatrieer

Die Skukuza ruskamp. (Foto: Kruger National Park)

Die liggaam van ʼn Mosambiekse burger is terug na sy geboorteland gestuur nadat hy in die personeelswembad in Skukuza in die Krugerwildtuin verdrink het.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, is die nadoodse ondersoek afgehandel en word geen vuilspel vermoed nie. Die ondersoek na die voorval duur wel voort.

Aldimiro Ismail Cossa, wat as ʼn kontrakteur in die Krugerwildtuin gewerk het, het Dinsdagmiddag verdrink nadat hy omstreeks 17:10 aan die diep kant van die personeelswembad ingespring het.

“Veiligheidspersoneel is na die toneel ontbied en Cossa se liggaam is sowat 20 minute later uit die water gehaal. Hy is deur ʼn mediese praktisyn op die toneel dood verklaar.”

SANParke het sy medelye met Cossa se familie, vriende en kollegas betuig.

“Dit is ʼn ongelukkige voorval. Die dokter op Skukuza en ander nooddienspersoneel is in kennis gestel en het alles in hul vermoë gedoen om sy lewe te red, maar was onsuksesvol,” het Oscar Mthimkhulu, uitvoerende bestuurder van die Krugerwildtuin, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.