Winter wyk nog nie

Sneeu word later vandeesweek oor sommige hoogliggende dele van die land verwag. (Foto: Jaco van den Berg)

Moet maar nog nie die wintersjasse en komberse wegpak nie. Bittere koue word van Donderdag oor veral die westelike dele van die land verwag en sal teen Saterdag na die suidelike en sentrale dele van Suid-Afrika versprei.

Die weerdiens sê reën en nat toestande, met sneeu op hoogliggende gebiede, word van Donderdagmiddag oor die westelike gebiede van die Wes-Kaap verwag. Dit sal Vrydagnag na die westelike en suidelike gedeeltes van die Noord-Kaap en die res van die Wes-Kaap versprei.

Die weerstelsel sal van Vrydagmiddag na die Oos-Kaap en die sentrale binneland beweeg en KwaZulu-Natal teen Saterdag tref.

Wydverspreide reën word van Donderdagmiddag in die westelike gedeeltes van die Wes-Kaap verwag en sal oornag na die westelike en suidelike gedeeltes van die Noord-Kaap versprei.

Reën van tussen 20 mm en 30 mm word verwag met selfs swaarder reën – tussen 40 mm en 50 mm – wat oor die Suidwes-Kaap voorspel word. Die weerdiens waarsku dit kan lei tot oorstromings in informele nedersettings.

Dit kan ook ʼn gevaar op die paaie veroorsaak en motoriste word aangeraai om hul spoed te verminder en veilige volgafstande te handhaaf.

Bittere koue word van Vrydag oor die suidwestelike gedeeltes van die land verwag en sal teen Saterdag na die suidelike en sentrale binneland versprei.

Sneeu word oor die hoogliggende gedeeltes van die Wes-Kaap en teen Vrydag oor die suidelike en westelike hoogliggende gedeeltes van die Noord-Kaap verwag, waarna dit teen Saterdag na die hoogliggende gedeeltes van die Oos-Kaap en die Drakensberg-streek van KwaZulu-Natal kan versprei.

Die weerdiens waarsku ook dat sommige bergpasse moontlik weens sneeu onbegaanbaar kan wees en dat dit tot verkeersontwrigting kan lei.

Boere word aangeraai om hul kleiner vee as voorsorgmaatreël na skuilings te neem.

Die kouefront word voorafgegaan deur sterk wind van tussen 40 km/h en 60 km/h in die binneland, met rukwinde wat op hoofroetes, veral oor die binneland van die Wes-Kaap, die Oos-Kaapse binneland, die Noord-Kaap, westelike Vrystaat en westelike gedeeltes van Noordwes kan voorkom.

Mense word ook gemaan om uiters versigtig te wees wanneer hulle oop vure maak of van brandende sigarette en vuurhoutjies ontslae raak omdat ʼn brandgevaar bestaan.

Die weerdiens sal later vandeesweek verdere besonderhede bekend maak oor waar en wanneer beduidende sneeuneerslae verwag kan word. Die weerdiens het mense ook gewaarsku teen weervoorspellings van onbewese of vreemde bronne. Inligting wat daarvan afkomstig is, veroorsaak dikwels eerder paniek as wat dit mense inlig en op die hoogte hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tiptol ·

Ek is nou 55. Ek onthou elke liewe jaar op 1 September as skool kinders kon ons op 1 Sept met gewone klere skool toe gaan vir lentedag. Dit was elke liewe jaar so koud en al die meisies het met koue blou bene en arms in hul lente rokkies rondgeloop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.