Wonderboom-lughawe kry nuwe baadjie

Opknappings by Wonderboom-lughawe. (Foto: Verskaf)

Die Wonderboom-lughawe is besig om blitsvinnig sy eertydse glorie te herwin. Dit volg minder as ʼn maand nadat die Tshwane Metro deur die hooggeregshof gedwing is om ontslae te raak van die private kontrakteur wat onwettig aangestel is om Wonderboom te bestuur.

Maroela Media het berig die Noord-Gautengse hooggeregshof het uitspraak gelewer in die guns van die Wonderboom Lughawe Belangegroep (WAIG) wat op 3 Februarie ʼn dringende hofaansoek gebring het om die Tshwane-metro onder meer te verplig om kundiges aan te stel om die lughawe te bestuur. Hulle het beweer die lughawe word ondoeltreffend bestuur en openbare geld word wanaangewend.

Die pos van lughawebestuurder moet nou intern gevul word en die belangegroep bestaande uit die huurders van persele op die lughawe moet tevrede wees dat die persoon wat aangestel word, bevoeg is om die werk te kan doen.

Hendrik Kleynhans, ʼn interne amptenaar van Tshwane wat sowat vyf jaar gelede as lughawebestuurder waargeneem het, is tans weer aan die stuur van sake by Wonderboom totdat die nuwe bestuurder, Nditsheni Madavha, in April oorneem.

Kleynhans en sy kernspan, bestaande uit amptenare wat die afgelope jare moes toekyk hoe die lughawe in die grond in bestuur word, beywer hulle tans daarvoor om die lughawe se status tot kategorie-5 te herstel. Die Burgerlugvaartowerheid het dit verlede jaar na kategorie 2 afgegradeer.

Volgens Wonderboom se amptelike Facebook-blad en nuusbrief word daar tans van vroeg tot laat gewerskaf; die geboue is geverf, vloerteëls word gelê en waterlekkasies en rioolpype is reeds herstel. Die verslete windkouse is vervang, padtekens en rigtingaanwysers het ʼn nuwe voorkoms gekry en die sekuriteitsinfrastruktuur is reggemaak. Die lughawe is ook in geheel skoongemaak.

Opknappings by Wonderboom-lughawe. (Foto: Verskaf)

“Dis asof die ligte weer aangeskakel is,” sê een van die huurders wie se sakeonderneming skade gely het terwyl dinge by Wonderboom skeefgeloop het. “Daar is ʼn konstante beweging van voertuie wat herstelwerk kom doen, daar is weer kommunikasie en daar is ʼn ware gevoel van eenheid tussen almal op die lughawe.”

Die afgelope week was daar ook groot opgewonderheid toe die produksiespan van die sepie Muvhango tonele op die lughawe geskiet het. Die episode word binnekort uitgesaai.

Onder Kleynhans se leiding was Wonderboom in 2015 sterk op pad om as ʼn kategorie 6-lughawe gradeer te word, veral nadat geskeduleerde passasiersvlugte van dié lughawe na Kaapstad ingestel is.

Beweerde politieke inmenging het egter veroorsaak dat Kleynhans sy pos moes verlaat en dit het die weg vir die onwettige aanstellings gebaan wat sedert 2017 by Wonderboom gemaak is. In 2018 is die direkte vlugte na Kaapstad gestaak toe dit duidelik geword het dat Wonderboom sonder remme op ʼn afdraande pad is. Die gras op die aanloopbaan was selfs in ʼn stadium só lank dat dit die aanloopbaan se ligte begin belemmer het.

Die kameraspan van Muvhango skiet tonele by die Wonderboom-lughawe. (Foto: Verskaf)

Die Tshwane-metro, wat sedert 2016 onder die DA se beheer is, is die lughawe se lisensiehouer en besluite wat sondermeer op die hoogste vlak gemaak is, was die hoof bydraende faktor van die lughawe se agteruitgang. Die metro se departement van paaie en vervoer is nou weer in beheer, nadat die lughawe eers onder die burgemeester en later onder die stadsbestuurder se beheer geplaas is.

Die hoof van die departement van vervoer, Pheko Letlonkana, en Kleynhans het hulle nou daartoe verbind om die werksverhouding met sakelui op die lughawe te herstel.

“Ek het volle vertroue in Hendrik Kleynhans,” sê raadslid Elmarie Linde, die voorsitter van die oorsigkomitee vir paaie en vervoer in Tshwane. “Ek twyfel nie dat hy die lughawe weer op dreef sal kry nie en dit sal vinnig gebeur.”

Linde sê Wonderboom se teiken is om uiteindelik sowat ʼn miljoen passasiers per jaar te hanteer en die roete tussen Wonderboom en Kaapstad te heropen. “Ons is meer as gereed om die uitdagings te aanvaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ou Baardbek ·

O wee!!! Sommige van die name wat nou weer genoem word laat die wenkbroue hoog lig, en entosiasme erg taan! LUGVAARTKUNDIGES is onontbeerlik vir hierdie entiteit. Praat gerus met die ou huurders/gebruikers/belanghebbendes by die lughawe, nie die latere bevoordeeldes nie.

Ronéll ·

Eienaardig! Hendrik Kleynhans het al voorheen bewys hy is instaat om die lughawe suksesvol te bestuur, maar dit wil voorkom asof hy die lughawe moet regruk, waarna n ander, moontlik onbevoegde, as hoof gaan oorneem.
Waarom word H Kleynhans nie permanent in die leidende posisie aangestel nie?
Dit blyk of politiek en regstellende aksie alweer hier geld.
Merk my woorde, slegs twee maande na H Kleynhans aan die nuwe persoon oorgegee het, gaan alles wat hy opgebou en reggeruk het, weer in die stof byt.

Michael ·

Todat diskriminerende wette geskrap word gebaseer op velkleur en die beste persoon aangestel word sal hierdie projek ook faal.

Phillip ·

Ons is n hardwerkende Vlok ons weet om opte bou en hoe om goed wat breek regte maak dadelik maar ja kom ons kyk hoe lank die volgende kanniedaat vol hou ?

charmaine ·

En so is mnr Kleynhans weer goed genoeg om die gemors na onwettige aanstelling op te tel en reg te ruk dis omdat ons nasie nie weet hoe werk korrupsie nie ons wil net ons werk doen ons salaris kry en huistoe gaan. Welgedaan Mnr Kleynhans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.