Woolworths herroep Weense worsie-produkte

Woolworths het met onmiddellike inwerkingtreding talle van sy Weense worsie-produkte herroep weens ʼn voorval van kruisbesmetting.

Die produkte wat geraak word, is Woolworths se “Smoked Chicken Viennas”, “Cocktail Chicken Viennas” en “Halaal Smoked Chicken Viennas” met die verkoopdatum 27 Mei 2023.

Volgens Woolworths was daar ʼn fout op ʼn produksielyn en dit het gelei tot kruisbesmetting van melkproteïene tussen hoender‑ Weense worsies en hoender-en-kaas‑ Weense worsies.

“Alhoewel die kaas dalk nie sigbaar is of geproe kan word nie, verwyder ons al die produkte van ons rakke. Klante wat ’n allergie vir koeimelk het, kan ’n nadelige reaksie op selfs spoorhoeveelhede melkproteïen ervaar. Die ‘Chicken Viennas’ het nie allergie-waarskuwingsetikette nie.”

Die hoender‑ Weense worsies met die verkoopdatum van 27 Mei 2023 word volgens Woolworths in vier variante vervaardig en in Suid-Afrika en Botswana verkoop.

Klante wat die produk gekoop het, moet die produk aan hul plaaslike winkel terugbesorg vir ’n volle terugbetaling.

Volgens Woolworths bestuur en voorkom hy saam met sy verskaffers die kontaminasie van voedsel deur roetinegehaltebeheertoetse.

“Woolworths is trots op buitengewoon hoë standaarde, en ons doen baie moeite, met baie streng protokolle binne ’n streng voedselveiligheidsbestuursproses, om te verseker dat alle voedsel wat ons produseer, verpak en verkoop van die gehalte is wat ons klante verwag. Voedselveiligheid is vir ons uiters belangrik, en die welstand van ons klante is ons eerste prioriteit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.