Wouter Kellerman weer vir Grammy benoem

Wouter Kellerman.

Wouter Kellerman, die Suid-Afrikaanse fluitspeler en komponis, is vir ʼn Grammy-toekenning vir volgende jaar se geleentheid benoem.

Kellerman se album getiteld Pangaea is in die kategorie vir beste nuwerwetse album benoem. Die album is ʼn projek wat hy saam met die Amerikaanse komponis en musiekvervaardiger, David Arkenstone, aangepak het.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir die benoeming,” sê Kellerman.

“Ons het die nuwe musiek geskryf in die hoop dat ons gebroke en verdeelde wêreld ’n nuwe identiteit kan smee waarin almal saam staan en werk – ’n wêreld waarin ander se belange net so belangrik is soos jou eie, net soos in die super-vasteland van Pangaea – dit is die lente van ’n nuwe era en ’n nuwe begin. Ons sien uit daarna om jou verbeelding op reis te neem.”

Kellerman het in 2014 saam met Ricky Kej ʼn Grammy-toekenning gewen vir die album Winds of Samsara. Die album het uit die staanspoor die no. 1-posisie beklee op die VSA-treffersparade vir nuwerwetse musiek en het 11 weke lank onder die toptien gebly.

Hy is ook in 2015 benoem vir ʼn Grammy-toekenning in die kategorie vir beste kontemporêre musiek vir die album Love Language.

Op eie bodem het Kellerman ook altesaam agt SAMAs (South African Music Awards) ingeoes.

Kellerman het reeds in 2008 bewys dat hy een van Suid-Afrika se mees gerekende musikante is met die vrystelling van sy debuutalbum, Colour. In 2010 het hy by die FIFA Wêreldbeker-afsluitingseremonie voor ’n wêreldwye gehoor van 700 miljoen mense opgetree.

Die Grammy-benoemings is Dinsdagoggend by die Grammy-museum in Los Angeles deur Billie Eilish, H.E.R., BTS en die Eurovision-wenners Måneskin bekend gemaak.

Die Suid-Afrikaanse platejoggie Black Coffee is benoem vir ʼn Grammy-musiektoekenning vir volgende jaar se geleentheid in die kategorie vir beste dans- of elektroniese album.

Black Coffee, wie se regte naam Nkosinathi Maphumulo is, se album getiteld Subconsciously is benoem saam met internasionale kunstenaars soos Illenium, Major Lazer, Marshmello, Sylvan Esso en Ten City.

Die Recording Academy sal die wenners van die 2022-Grammy-pryse op 31 Januarie by die Crypto.com Arena in Los Angeles, VSA, aankondig.

Pangaea is nou op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anonymouse ·

Dis fantasties! Na sy laaste Grammy toekenning het ek na ‘n onderhoud met hom geluister en hy klink na so ‘n plat op die aarde mens. Baie sterkte! Ek is seker jy gaan nog een wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.