Wysigings aan Kinderwet ‘gee meer mag aan staat’

kinders

Foto: Argief.

Die voorgestelde wysigings aan die Kinderwet dui op ’n sterk skuif na meer mag aan die staat en minder aan private maatskaplike en ondersteuningstrukture. Die wysigings sal katastrofiese gevolge inhou veral ten opsigte van die wegdoen met aannemingsfooie.

So sê Solidariteit se Maatskaplikewerkersgilde in sy kommentaar wat hy teen die voorgestelde wysigings aan die Kinderwet ingedien het.

Die gilde sê die aannemingsproses in sy huidige vorm is reeds uitgerek en hoogs gereguleerd en absolute spesialiskennis is nodig. Die proses vereis onder meer assesserings, onderhoude, mediese rekords en beradingsprosesse vir die kinders en voornemende ouers. Suid-Afrika se tekort aan maatskaplike werkers het boonop reeds kritieke vlakke bereik en die staat het eenvoudig nie die geld om nog mense in diens te neem nie.

“Die gemiddelde geakkrediteerde aannemingspesialis hanteer op enige gegewe tyd ongeveer 100 sake, terwyl internasionale standaarde ’n maksimum van 60 sake voorstel. Dit maak dit onmoontlik vir die staat om hierdie funksie ten volle te vervang sonder om lewens te verwoes,” sê Marisa Engelbrecht, sektorhoof van Solidariteit se Maatskaplikewerkersgilde.

Ingevolge die wysiging word die klousule rakende die betaling vir dienste tydens die aannemingsproses ten volle geskrap, en die wet bepaal dan dat geen fooi gehef mag word vir enige diens wat gelewer word tydens die aannemingsproses nie.

’n Private maatskaplike werker mag wel nog hierdie diens lewer indien hy of sy daarvoor registreer, maar mag geen fooie vir dienste hef nie. Dit geld ook dokters, beraders en prokureurs wat ondersteuning bied in hierdie proses. Duisende poste sal deur hierdie wysiging verlore gaan, en die maatskaplike las op die staat sal eenvoudig net groter word, meen Engelbrecht.

“Indien voornemende aanneemouers van ander staatsdepartemente se prosesse en dienste gebruik moet maak om ’n liefdevolle huis vir ’n kind te kan bied, gaan dit ’n drastiese afname in aannemings tot gevolg hê. Die ramp is dus tweeledig: dit raak gesinne én dit raak mense wat hul werk kwyt sal wees. In ’n verslag wat die Solidariteit Navorsingsinstituut in 2019 oor aannemings saamgestel het, is bevind dat die departement in die voorafgaande paar jaar slegs enkele aannemings gefinaliseer het. Ons kan nie toelaat dat hierdie wysigingswet deurgevoer word nie; gesonde gesinstrukture en poste is op die spel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel ·

Ja en so word beloftes net lippetaal… kyk eerder na die strawwe wat opgelê word. Masr nee dan mag hulle dalk stemme verloor. Politiek belangriker as vrouens en kinders.

Bushy ·

Die moontlike gevaar van kinder “Mense handel” is die eerste gedagte wat by my opkom met die berig.

Derek ·

Die ANC wil grond onteien sonder vergoeding, maar dit wat hulle sover bereik het sal niemand kos he binne ses maande. Al hierdie wette is maar net om agteruit te boer, kyk hoe kyk SA, n slagveld, want hulle weier self om onder die wet te leef maar wil dit op ander afdwing. Nie eens te noem die belasting geld wat verkwis word deur duur regskostes nie en wetstoepassers wie net so korrup is soos die ANC self. Die grootste probleem is opvoeding, skynbaar dink hulle n kwalifikasie is opvoeding!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.