Zuma terug ná behandeling in Kuba

Ondersteuners wag vir oudpres. Jacob Zuma by die lughawe. (Foto: Carl Niehaus/Twitter)

Honderde ondersteuners het Saterdag beleërde oudpres. Jacob Zuma terug in die land verwelkom nadat hy mediese behandeling in Kuba ontvang het. Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, was onder die ondersteuners.

Zuma het ʼn donkerbril opgehad toe hy die skare vanmiddag vlugtig toegespreek het. Die oudpresident het verduidelik dat hy ‘n oogoperasie in die buiteland ondergaan het, berig EWN.

Ondersteuners het in antwoord op ʼn beroep van een van Zuma se getrouste kornuite, Carl Niehaus, sedert vanoggend by die OR Tambo-lughawe in Kemptonpark saamgetrek in afwagting op Zuma se terugkeer.

Dit is ’n aanduiding dat een van twee strategieë deur die Zuma-Magashule-staatskapingsgroep in die ANC in die mou gevoer word om simpatie vir Zuma te werf teen die ANC-faksie wat pres. Cyril Ramaphosa meer ter wille is, meen Jan-Jan Joubert.

Niehaus is naamlik deesdae op die betaalstaat van die kantoor van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC en oudpremier van die Vrystaat. Magashule is ’n diensbare en getroue akoliet van Zuma, en word gesien as versamelpunt van die interne teenstand teen Ramaphosa.

Zuma se terugkeer na Suid-Afrika kom in ’n tyd van kwaai druk op die oudpresident. Hy en sy binnekring word algaande as staatskapers voor die Zondo-kommissie ontmasker. Daar is algaande sterker seine van die nasionale direkteur van openbare vervolgings, adv. Shamila Batohi, se kant dat die vervolging van staatskapers voor hande is. Zuma moet op 6 Maart in die KwaZulu-Natalse hooggeregshof in Pietermaritzburg verskyn nadat sy regspan se poging om hom daaruit te hou met ’n gekompromitteerde siektebrief, misluk het.

Die oproep van ’n massa mense na OR Tambo staan in die teken van die Zuma-faksie se terugvegpoging, en die opbou na ’n moontlike mosie van wantroue in Ramaphosa in die middel van die jaar by die ANC se nasionale uitvoerende raad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Cherokee ·

Na alles wat Zuma vir (aan) die land gedoen het, is dit niks minder as reg om die wens wat hy al vir jare uitspreek, te verwesentlik…. sy dag in ‘n hof.

Amatambo ·

Scalla – jy droom drome en sien gesigte – Zuma self vir sy vlug op SAL betaal???

JM ·

Sal graag wil verneem wat die diagnose van sy “siekte” deur die Kubaanse dokters is.

Erik ·

Haai siestog, lyk my hy is toe al die tyd blind! Wonder altyd wat in sy aanhangers se koppe aangaan?
Ek kan baie dinge hanteer, maar wat my deesdae erg ontstel is ek met my ou klein karretjie waarvoor ek kliphard moes werk agter ‘n luukse groot motor moet aansukkel om dan net te sien dat die bestuurder glad nie kan bestuur nie. Indien jy nie die vermoë het om te bestuur nie, het jy verseker ook nie die vermoë om geld te maak om so ‘n motor te bekostig nie. Dan hoort jy skaars op ‘n donkie. Dan dink ek altyd, dis hoekom hul van Zumpies hou!

ElizeK ·

Verstaan nie. Wat het hy in Kuba se hospitale gaan soek. Onderwerp hulle, wat die NGV op ons wil afdwing, aan die UITSTEKENE SA staatshospitale. Nou hardloop hulle na ander lande toe.

Anel ·

Stem 200% saam met jou. En ons as belastingbetalers betaal daarvoor. Absolut onaanvaarbaar.

Destarte ·

Ek sê en vra presies dieselfde ding!! Was dieselfde storie met Zimbabwe se vorige president.

Erik ·

Dalk kan Maroela Media hierdie artikel onder ‘Gedoriewaar’ klassifiseer.

J ·

Die ‘hoogverraad wat teen die land gepleeg is … was die ’empty suits’ wat in strategiese poste aangestel was’!

Rooikoos ·

En Nieuhaus kef soos ‘n opgewonde brak al om hom. Lees wat se Wikipedia oor hom.

Charl Albertus ·

Ek het twee vrae:
1. Wat is vout met RSA staatshospitale? Die res van sy mense moet dit gebruik, hoekom nie hy nie?
2. Wie betaal vir die mediese uitstappie?

Pieter ·

Te blind om hof toe te gaan? Zuma se besoeke aan Kuba laat my dink aan die James Bond fliek Die Another Day. Hy besoek seker dieselfde kliniek as in daardie fliek. Eendag kom hy terug as Jason Smith en al die hofsake verdwyn.

Erita ·

Kornuite? Kry dit nie in my woordeboek
Oeps Dankie in Nederlandse woordenboek gekry

George ·

En ons betaal weer!!!! Sit hom in die tronk. Is ons hospitale nie goed genoeg wat hy opgeneuk het nie???

Magda ·

Hoo datB “hy” nou sy DAG in die HOF gaan kry!!!!!!!!!!! en beland waar hy hoort – TRONK

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.