Samantha van ‘Die Kontrak’ bewys hoop sal seëvier

Samantha Leonard. (argieffoto)

In ’n kroeg, dieselfde een waar sy haar eerste optrede 12 jaar gelede in ’n kuierplek gehou het, het Samantha Leonard gewonder wat harde werk nou eintlik beteken. Dít wat sy haar lewe aan gewy het en waar sy haarself bevind het, het net nie gestrook nie.

“Dit kan dan tog nie al wees nie?” het sy haarself gevra.

Dit was kort voor Samantha (30) vir die tweede seisoen van die sangtalentsoekkompetisie Die Kontrak ingeskryf het. Dié gewaarwording het haar diep getref.

Sy het erken sy het al  ’n paar keer seer in die musiekbedryf gekry. Om vir Die Kontrak in te skryf, het behoorlike waagmoed van haar geverg.

“Ek wou nie inskryf nie, dit was vreesaanjaend om weer my hart oop te maak. Ek was bang dat mense my sou uitjou omdat ek deel van The Voice ’n paar jaar gelede was.”

Sy beskryf egter 2022 as haar jaar van ongemak, ’n jaar waarin sy haarself uitgedaag het om te fokus op wat belangrik is in die lewe.

Nou deel sy die verhoog met die room van die Afrikaanse musiekbedryf by die Afrikaans is groot-musiekkonserte, nadat sy net verlede week as die wenner van Die Kontrak aangekondig is. Sy erken dit voel alles steeds vir haar byna te onwerklik om te glo.

“Ek moes op skerm uitvind waarom ek doen wat ek doen. Die mens wat ek agt maande gelede was en die mens wat ek vandag is, verskil handomkeer van mekaar.”

Weet sy dan nou, ná al die jare, waarom sy geroep is om op die verhoog te staan?

“Om mense te dien.”

Samantha Leonard en Dodo Nyoka. (Foto: Samantha Leonard/Facebook)

Hierdie doel het sy saam met Dodo Nyoka, die 21-jarige wat naaswenner van Die Kontrak is, gevind. Dit is maar een van die redes waarom die twee kunstenaars so ’n goeie verhouding het.

“Mense is verras om te sien hoe naby ek en Dodo eintlik aan mekaar is.

“Ons albei het ’n leemte in ons hart gehad, ons albei wou uitvind waarom ons sing en op verhoë wil wees.”

Sy weet egter vandag dat sy ’n lewenslange vriendskap met Dodo gesmee het. Hulle het ontmoet toe die top 26 van die program aangekondig is, dit was nie moeilik om te sien dat hulle nog ’n lang pad saam sou stap nie.

Sy wou hom leer ken, en hy vir haar.

Samantha raak stil wanneer sy dink aan die sprong wat haar loopbaan die afgelope paar maande gemaak het.

“Dit is soos ’n sprokiesverhaal. Ek dink ek sou ’n hartaanval kry as ek elke oomblik ten volle sou inneem vir wat dit was.”

Musiek is vir Samantha ’n universele taal, een wat almal verstaan, een wat hoop gee en genees.

“Waarom anders sou 9 000 mense byeenkom? Dit gaan oor musiek. Die hoop wat ek deur die jare nodig gehad het, het mense nou nodig.”

Hoewel dit ’n kompetisie is wat die deure uiteindelik vir haar laat oopswaai het, is sy nie gaande oor die konsep nie. Om ’n tweede, 10de of 100ste plek in ’n kompetisie te behaal, bepaal niemand se waarde nie, glo sy.

“Jy moet seker maak dat jy elke dag die beste weergawe van jouself is.”

“Dit kan vergelyk word met wanneer jy op die snelweg ry. Wanneer jy bly fokus op dit wat in die aankomende verkeer aangaan, gaan jy die slaggate in jou eie baan miskyk.”

Sy vergelyk die kompetisie met ’n rugbywedstryd; sommige mense skree vir die een span en sommige vir die ander. Aan die einde van die dag word daar hand geskud, ’n gebaar wat respek vir mekaar ten toon stel.

Sy hoop dat die respek en liefde wat sy en Dodo deel na hul aanhangers en diegene sal vloei wat hul misnoeë met die uitslag uitgespreek het.

Gʼn oornagsukses vir dié sangeres

Op 16 het Samantha haar eerste optrede gehad. Sy onthou dit goed, dit was by die Flamingo Casino in Kimberley en die eerste keer wat sy geld ontvang het. Dit was ook die begin van die spaarrekening wat twee jaar later vir haar studie sou betaal.

“Gebore en getoë in Kimberley, maar eintlik wou ek net daar uitkom. Niks gebeur eintlik in Kimberley nie.”

(Foto: Maroela Media)

Ná ’n jaar by die Campus of the Performing Arts in Kaapstad, is sy Pretoria toe. ’n Musiekloopbaan het gewink. Van kroeg tot kroeg, restaurant tot restaurant, het Samantha tien jaar lank gesoek na haar lewensroeping. Sy het gesing, sy het dit geniet, maar die hoekom het ontbreek.

Die sangeres het gou besef dat sy nie geleenthede deur haar vingers kon laat glip nie.

Haar pa is die een wat haar hand vasgehou het wanneer sy angstig staan en toekyk het hoe resultate ontvou, hoe haar toekoms oopgaan en soms wegglip voor haar. Sy hart het saam met haar eie gebreek.

“Ek het aanhou veg vir die mense rondom my. Vir my pa wat altyd daar was, vir my diverse groep vriende wat familie geword het. Die mense wat die voorste ry by my optredes deur en deur verdien.”

Wat hou 2023 vir haar in? Seëninge. Sy spreek dit uit en die harde werk waarmee sy die afgelope dekade vertroud geraak het, vorm die grondslag daarvan.

Sy is soos ’n vliegtuig, sonder wiele, besig om te sweef. Dit is hoe sy haarself tans beskryf.

“Ek weet vandag dat dit waardeur ek moes gaan, gebeur het met ’n doel.”

Haar perspektief het verander, sy het ophou fokus op die dinge wat nie eintlik saak maak nie. Wanneer mense aan haar dink, aan dit waarvoor sy staan, wil sy graag hê dat hulle dadelik moet dink “Samantha Leonard, ’n kind van God”.

Dit is juis in Hom waar sy berusting vind.

“Wanneer die lewe gebeur en dit rof gaan, weet ek dat Hy altyd daar is, altyd konstant is.”

“Hy is die boog en ek die pyl, ek fokus op dit waarmee ek besig is en vertrou op Hom vir die res.”

Monique Steyn praat oor Samantha

Monique Steyn, Samantha se mentor in die kompetisie, beskryf haar as ’n droom.

“Sy is so onbaatsugtig en so gefokus. Sy het tyd en plek vir elkeen rondom haar,” het Monique aan Maroela Media gesê.

“Sy was ongelooflik gedissiplineerd. Vir iemand wat so perfeksionisties is, was dit lekker om te sien hoe sy ook die reëls soms gebreek het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gogga ·

Baie geluk, en ek hoop die ou suurknolle kan hulle lelike kommentaar vir hulself hou.
Harde werk word beloon en duidelik moes sy regtig klippe kou om bo uit te kom. Sterkte vir die pad vorentoe!

Tharina ·

Baie geluk Sam! Ek is so bly vir jou! Dit was ‘n groot voorreg om jou te ontmoet by AIG Sondag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.