Sepie-aktrise verwelkom tweede pienkvoet

Juanita Velts en haar man, André, het hul tweede kind verwelkom. (Foto: verskaf)

“Ek weet niks van seuntjies af nie, maar ek dink ek gaan vinnig leer!”

Só het Juanita Velts, bekend vir haar rol in die kykNET-sepie Getroud met Rugby, opgewonde oor haar tweede pienkvoet gepraat.

Velts en haar man, André, het vanoggend (4 November) net na 08:00 hul tweede kind, dié keer ’n seuntjie met die naam Simon, verwelkom.

Hul dogtertjie, Zia, het vroeër vanjaar haar tweede verjaarsdag gevier.

“Ons het die twee nog nie aan mekaar voorgestel nie; sy kom later vandag tydens besoektyd,” het Velts aan Maroela Media vertel.

“Ek sien daarna uit om te sien hoe sy gaan reageer.”

Sy het nooit gedink dat sy ’n ma van ’n seuntjie sou word nie, want sy het self net sussies. Tog sien sy daarna uit om uit te vind wat vir haar voorlê.

“Hopelik is dit klein bietjie makliker as om ’n dogtertjie te hê,” het sy geskerts.

(Foto: verskaf)

Die naam van hul seuntjie, Simon, het ook ’n kosbare betekenis vir die gesin omdat dit die naam van André se oupa was.

“Hy het ’n baie sterk band met sy oupa gehad. Die naam is ook vir my ’n regte sterk, Afrikaanse naam.”

Alhoewel dié swangerskap vir groot vreugde gesorg het, moes die egpaar slegte nuus hoor toe Velts 12 weke swanger was.

“Ek was swanger met ’n tweeling. Op sewe weke was albei se hartjies baie sterk gewees, maar op 12 weke het ons uitgevind dat die tweede babatjie opgehou groei het en nie ’n hartkloppie gehad het nie.”

Velts het gewonder of haar hart groot genoeg vir twee bondels liefde is, maar toe Simon die eerste keer begin huil, het Velts salig saam gehuil.

“Toe is die liefde klaar daar. Dit is eintlik ongelooflik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.