Skole verloor derde van leertyd weens pandemie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Argieffoto/Unsplash)

Laer- en hoërskoolleerders het gedurende die Covid-19-pandemie meer as ʼn derde van ʼn jaar se leertyd verloor en het boonop steeds nie hierdie agterstand ingehaal nie.

Kenners meen dat die kommerwekkende bevindinge “ʼn werklike probleem vir die betrokke generasie inhou”.

Die pandemie het een van die geskiedenis se grootste ontwrigtings in onderwys veroorsaak, met 95% van leerders wat wêreldwyd deur skoolsluitings geraak is en aanlyn onderrig wat al hoe meer algemeen geraak het.

In ʼn poging om uit te vind watter invloed hierdie omwenteling op leerders gehad het, het ʼn Europese span die grootste navorsingstudie oor die onderwerp onderneem.

Die navorsers het altesaam 42 studies ontleed wat tussen Maart 2020 en Augustus verlede jaar in 15 lande gepubliseer is, waaronder verskeie Europese en Suid-Amerikaanse lande, asook Suid-Afrika, die Verenigde State en Australië.

Die studie, wat in die vaktydskrif Nature Human Behaviour gepubliseer is, het bevind dat kinders tussen vyf en 18 jaar oud die ekwivalent van 35% van ʼn normale jaar se onderwys verloor het.

Kinders uit benadeelde agtergronde is veral hierdeur geraak, net soos dié wat in armer lande skoolgaan.

“Die leerkrisis is eintlik ʼn gelykheidskrisis,” het die studie se hoofskrywer, Bastian Betthauser, gesê. Betthauser is ʼn navorser by Frankryk se Sciences Po-universiteit.

Die navorsers het ook groter “leertekorte” vir wiskunde as vir lees gevind.

“Dit kan wees weens ouers wat beter in staat is om hul kinders te help met hul leesvaardighede in vergelyking met wiskunde-oefeninge.”

Luidens die studie het die meeste van die leeragterstande ook gekom tydens skoolsluitings aan die begin van die pandemie. Die pogings wat sedertdien deur leerders, ouers, skole en regeringsinstansies aangewend is, het dalk verdere leerverliese voorkom. Tog kon hierdie pogings nie vergoed vir die leertyd wat reeds verloor is nie.

“Onderwys is een van die belangrikste rolspelers vir kinders se skool-na-werk-oorgang, hul sukses in die arbeidsmark en hul sukses om hul eie lewensbestaan ​​op te bou,” het Betthauser gesê.

“Die oorgang gaan dalk ʼn werklike probleem wees vir hierdie generasie wat die pandemie op skool ervaar het.”

Meer navorsing is egter nodig om die volle omvang van die probleem vorentoe te verstaan, veral in ontwikkelende lande.

Die navorsers voer nietemin aan dat verskillende regerings nou beleidsinisiatiewe van stapel moet stuur om hierdie generasie te help om hul leerverliese in te haal.

“Ek kry die gevoel dat die aandag dalk ʼn bietjie afgelei word deur huidige gebeure, maar dit is belangrik om te onthou dat hierdie leertekorte steeds daar is en nie vinnig gaan weggaan nie,” het Betthauser afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lourens ·

“Skole verloor derde van leertyd weens regulasies rondom die beweerde pandemie”
Daar’s hy nou.

Truman Burbank ·

Net jammer soveel mense het hul solidariteit verklaar met die pandemie. Reg van die eerste pak toilet papier af. Toe weet die wat beheer, hul kan die meerderheid beheer

Johan ·

Korrek, die” pandemie” het kinders nie geraak nie, slegs die regulasies het.

Thelsa ·

En ons matrikulante presteer bogemiddeld goed ? Regtig? Iets is iewers verkeerd. Dit strook net nie.

Johan ·

Kinders het nie eers siek geword nie, hoe kon die pandemie hulle dan benadeel, dit was alleenlik die regulasies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.