Eerste staatshospitaal in Afrika met steeklose klepvervanging

Die staat se eerste steeklose aorta-klep-vervangingsoperasie is by Charlotte Maxeke- Akademiese Hospitaal uitgevoer. (Foto: verskaf)

Charlotte Maxeke- Akademiese Hospitaal in Johannesburg het mediese geskiedenis gemaak as die eerste staatshospitaal in Afrika om ’n steeklose aorta-klep-vervangingsoperasie uit te voer.

Twee pasiënte het dié baanbrekersoperasie op Donderdag 27 Julie ondergaan en was binne ses ure ná dié baanbrekersoperasie weer wakker.

“Die operasie verkort nie net die prosedure en pasiënte se tyd in die hospitaal nie, maar verlaag ook die sterfterisiko,” het Motalatale Modiba, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, gesê.

Die chirurgiese span, gelei deur dr. Slobodan Mićović, medeprofessor in chirurgie aan die Universiteit van Belgrado in Serwië, het die operasie suksesvol uitgevoer.

“Prof. Mićović is een van die wêreldbekende hartchirurge wat meer as 2 500 gevalle per jaar behandel, met ongeveer 705 operasies wat op die minimaal ingrypende wyse gedoen word.”

Dr. Itumeleng Taunyane, hoof van die kliniese eenheid en hoofchirurg by die eenheid vir minimaal ingrypende hartchirurgie, en dr. Bongani Ngutshane, konsultant-kardio-torakale chirurg, was saam met Mićović in die teater.

Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se mediese skool in samewerking met die Vertice Medtech-groep het die operasies moontlik gemaak.

“Ons het met ʼn fantastiese toestel met baie goeie langtermyn duursaamheid die operasies op die pasiënte uitgevoer. Dit was nie ingewikkeld om in te plant nie, en dit is gebruikersvriendelik,” het Mićović na afloop van die operasies gesê.

Die suksesvolle operasies volg ook kort op die hakke van 700 chirurgiese prosedures wat dié departement op Mandela-dag op 18 Julie uitgevoer het.

Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rooi rissie ·

Baie baie mooi. Wel gedaan. Ek wens net hulle kan hulle dienste verbeter op gestremdes en diabete.

Kwikkie12 ·

Wel gedaan net jammer dat ‘n ou tannie met ‘n gebreekte arm vir langer as 2weke moet le en wag..

Martie Smartie ·

Privaat mediese maatskappy wat dit moontlik maak in n staatshospitaal …

Charles ·

Sjoe! Ek was nie eens bewus sulke goed het gebeur gedurende operasies nie. Bly dit het verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.