Temba sê Klaas Vakie het nie kom draai

Temba Bavuma en Kane Williams. (Foto: Twitter/England’s Barmy Army)

Nee, sê Temba Bavuma, hy het nie ʼn uiltjie tydens ʼn amptelike geleentheid in Indië geknip nie.

Suid-Afrika se witbalkrieketkaptein het in aanloop tot die openingswedstryd van die Wêreldbeker-kriekettoernooi ʼn mediasessie saam met die ander deelnemende lande se kapteins in Ahmedabad bygewoon.

Tussendeur die joernaliste se vrae – wat grotendeels aan die gasheerland se Rohit Sharma en Pakistan se Babar Azam gerig is – het dit gelyk of Klaas Vakie vinnig by die 33-jarige Protea kom draai het.

Flinke sleutelbordkrygers het onmiddellik ʼn rits foto’s van Bavuma op sosiale media versprei waar hy oënskynlik met toe oë en ʼn geboë hoof tussen Sri Lanka se Dasun Shanaka en Nieu-Seeland se Kane Williamson sit.

“Ek blameer die hoek van die kamera, ek het nie geslaap nie,” het die Suid-Afrikaner op die Barmy Army se X (Twitter)-profiel reageer.

Verskeie ander internetgebruikers het vir Bavuma in die bresse getree en gesê dat dit maar ʼn bra vervelige funksie was. Dit lyk ook nie of van die ander kapteins se volle aandag by die verrigtinge was nie.

Die Protea-kaptein het ook Suid-Afrika se twee opwarmingswedstryde misgeloop nadat hy om familieredes na Suid-Afrika teruggekeer het.

Suid-Afrika speel Saterdag sy eerste wedstryd van die toernooi teen Sri Lanka en Bavuma het die afgelope ruk sy waarde tot die span met ʼn paar goeie beurte onderstreep.

Hy het drie honderdtalle in sy laaste tien eendagkrieket-beurte vir die Proteas aangeteken en hy slaan sy lopies in dié formaat van die spel teen ʼn gemiddeld van 54,68 en ʼn treftempo van 91,07.

Hy beklee die 13de plek op die Internasionale Krieketraad se lys vir topeendagkrieketkolwers.

Protea-wêreldbekergroep: Temba Bavuma (kaptein), Gerald Coetzee, Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Rassie van der Dussen en Lizaad Williams.

Wêreldbeker-bepalings:

7 Oktober: Suid-Afrika teen Sri Lanka

12 Oktober: Suid-Afrika teen Australië

17 Oktober: Suid-Afrika teen Nederland

21 Oktober: Suid-Afrika teen Engeland

24 Oktober: Suid-Afrika teen Bangladesj

27 Oktober: Suid-Afrika teen Pakistan

1 November: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland

5 November: Suid-Afrika teen Indië

10 November: Suid-Afrika teen Afghanistan

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Theresa ·

Natuurlik is dit, die verslapping van sy liggaam is in n “sleep mode” liewe genugtig dis mos nie rocket science nie

George ·

Lyk net of hy slaap op n stil/foto. Duidelik in video dat hy nie geslaap het nie.

Theresa ·

Die video is gedokter, en dit het baie vinnig gebeur, om skade beheer toe te pas, of beeldpoetsing

B-Man ·

Toemaar, as ons nie onder die vlag en met ‘n wapen mag speel nie, sal niemand weet nie (hoop die ANC).

Pietertjie ·

Hy mediteer toe-oë. Van my kollegas het ook só ge-“dink”, al is die vergadering lankal verby.

Pieter9 ·

Rus net ‘n bietjie want dit is harde werk om op jou knieë te staan voor elke wedstryd.

Anel ·

Ag, asseblief! ‘n Kop wat so gekantel is!!! Skande! Maar nou ja, kan niks meer van hulle verwag nie. Hul volg maar hul regeringleiers se voorbeeld!

Juanita ·

Absolute skande dat jy die man so oordeel sonder om die video te kyk waarin jy duidelik kan sien hy slaap nie. Maar nou ja, kan seker nie beter verwag van mense wat net wil klippe gooi nie.

Janine ·

Dink jy moet die video weer so ses keer kyk. Sy kop het nie gekantel in video, wel in foto!

Lesly ·

Nie seker van watse kamera hoek die kameraman moes neem sodat dit lyk of hy wakker was.

Juanita ·

Ai ai, mense soek sensasie waar daar geen sensasie is nie. Dit is duidelik dat hy net afgekyk het op daardie oomblik.

Juanita ·

Hoekom? Omdat mense sê hy slaap wanneer hy nie geslaap het nie. Nou maak dit van hom ‘n swak kaptein?

Janine ·

Foto kom nie uit die video….kyk waar sy kop is. Nie een keer gekantel soos op video!

Seef ·

As hulle in die parlement kan slaap kan hy ook seker maar. Afrika kultuur.

Piet ·

hy dink seker weer dat hulle die thjokers van die spanne gaan wees,hahaaaaa

Reinier ·

Se bietjie hoeveel jeer hy vir ‘n “duck” uit is seker meer as die 100talle. En slaap op internationale tv uitsending, seker ” jetlag”

BlueHope ·

Ek glo ook dat hy NIE geslaap het nie,
maar jy sou hierdie reaksie op enige ras speler in daardie situasie gekry het – die anonimiteit van die internet bring die lelik uit mense uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.