Toutrekkery oor Mugabe se laaste rusplek duur voort

(Foto: Robert Mugabe)

Grace Mugabe, weduwee van Zimbabwe se oudpres. Robert Mugabe, het ʼn hofbevel betwis waarin beveel word dat haar man se oorskot opgegrawe word sodat dit in ʼn nasionale graftombe herbegrawe kan word.

Mugabe is in September 2019 naby sy landelike tuisdorpie, Kutama – sowat 90 km wes van die hoofstad Harare – begrawe nadat daar weke lank gekibbel is oor sy laaste rusplek.

Sy familie het die regering se plan teengestaan om hom in die Nasionale Heldeakker in Harare te begrawe waar daar begin is om ʼn spesiale mausoleum vir sy oorskot op te rig.

In Mei het ʼn tradisionele leier Grace Mugabe egter met vyf koeie en twee bokke beboet omdat sy Mugabe glo onbehoorlik laat begrawe het en opdrag gegee dat sy oorskot opgegrawe en in Harare herbegrawe moet word.

Mugabe se kinders het teen die stamhoof se opdrag geappelleer, maar ʼn landdroshof het verlede maand die bevel bekragtig en gesê die oudpresident se kinders het geen wetlike gesag om die opgrawing te betwis nie.

Dit het Grace Mugabe genoop om by die regstryd betrokke te raak.

Hofdokumente het Maandag gewys dat die weduwee, ʼn in ʼn appèlaansoek by die hooggeregshof, aanvoer dat die landdroshof se bekragting van die stamhoof se direktief “erg onreëlmatig en onbillik” is.

Robert Mugabe het op 6 September 2019 in die ouderdom van 95 in ʼn in ʼn hospitaal in Singapoer gesterf byna twee jaar nadat ʼn staatsgreep sy outokratiese bewind van 37 jaar lank beëindig het.

Die regering wil hê hy moet in die Nasionale Heldeakker begrawe word wat gereserveer is vir helde van die vryheidstryd teen kolonialisme.

Mugabe se familie voer egter aan hy het voor sy dood aan hulle gesê hy wil nie in die graftombe, wat ook ʼn toeristeaantreklikheid is, begrawe word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johann ·

In ‘n sirkus ken die narre hulle toertjies, die is iets anders.

Zombie ·

Skielik wens ek, dat ek ook die mag het om iemand te beboet vir iets, 5 koeie en 2 bokke. Sommer direk aan my betaalbaar.

Nicholaas ·

Hul wil hom vereer as n held maar hy het sy land so in die afgrond bestuur dat hy na n hospitaal oorsee moes gaan.

Adelaide ·

Geen rus vir diegene wat voorvadergeeste belangriker ag as God nie – die baklei in die familie sal verewig voortduur.

annie ·

Onthou voorvadergeeste het glo groot mag en… so behou bygelowe hul krag. By ons gaan dit nie anders nie. Politiek rus op ‘n grootse verlede; die goue staander vir die volgende blikskottel se roemryke opgang. Sondag is deesdae begrafnisdag (vroeër Christus se Opstandingsdag). Die kerkgebou verheilig bloot die glansryke verheerlikings(-politieke-)partytjie met verhewe orasies afgerond met ‘n formidabele tokenpaal-planting vir ‘n bedwelmde na-geslag-aanbidding.

Jr ·

Moet net nie hierdie ou fossiel opgrawe te veel nie asb want as hy lewendig moet word het ons nog n irritasie soos zumpie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.