‘Weg, maar nie vergete’

Rosetta Brits van Boksburg wat vier kinders aan die dood afgestaan het met die Boksburg-tragedie. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Rosetta Brits van Boksburg wat vier kinders aan die dood afgestaan het met die Boksburg-tragedie. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Weg maar nooit vergete nie”, staan op haar regterskouer getatoeëer, omring met die name van die kinders wat sy in die Boksburg-tragedie verloor het.

Rosetta Brits (40) dra nou haar vier oudste kinders, Jamel (16), Sebastian (14), Adrian (12) en Gerrie (9) Eals, se name in ink permanent saam met haar op haar regterskouer. Hul name, met elkeen se geboortedatum daaronder in sierskrif, vorm ʼn hartjie.

Binne-in die hart, saam met die woorde gone but never forgotten, is die datum van daardie noodlottige dag toe Jamel en haar drie boeties van hul ma af weggeruk is: 24 Desember 2022.

Dit is die dag waarop ʼn gastenkwa onder ʼn lae brug vasgehaak en toe ontplof het.

Altesaam 41 mense is in die ramp dood.

Die ramp het seweuur die oggend gebeur toe die bestuurder van ʼn gastenkwa die verkeerde afrit geneem en onder ʼn lae brug in die Plantation-woonbuurt vasgehaak het.

Eers was daar ʼn paar klein ontploffings en Jamel en haar boeties het besluit om ondersoek in te stel. Ivan de Lange, Jamel se kêrel, het saam die kort afstand van die gesin se woning na die brug afgelê.

Hulle was nie lank weg nie, toe Rosetta een finale groot ontploffing hoor.

Sy het gehardloop om na die kinders te gaan soek.

Gerrie is eers ure later deur ʼn reddingswerker gekry.

Boksburg-tragedie

In Rosetta se woonstel is daar ‘n spesiale plekkie gemaak vir haar vier oudste se foto’s wat op hul begrafnisse uitgestal is. (Foto: Pieter Cloete / Maroela Media)

Toe Rosetta op die toneel aankom, het Jamel, Sebastian en Adrian nog geleef en nie ver van mekaar gelê nie. Hul toestand was kritiek en Adrian se linkerarm was weg. Ivan was reeds dood.

Rosetta het verward probeer om hulle te help. Heel eerste het sy vir Sebastian opgetel en na ʼn ambulans gedra. Deurentyd het hy by sy ma gepleit om hom huis toe te vat.

Hierna het sy vir Adrian gaan optel. Toe sy omdraai om Jamel te help, was dit reeds te laat. Haar oudste het net daar op die sypaadjie in die harwar gesterf.

Ontroosbaar het Rosetta se bene daar op die sypaadjie onder haar ingevou.

Dit was eers later dat die besef tot haar deurgedring het haar kinders is vir altyd weg.

Selfs nou, amper ʼn jaar later, lê die emosies nog vlak.

“Hulle gaan nooit weer in die huis stap en sê ‘mamma, help’ of ‘mamma, kom ons gaan uit’ nie. Daar is baie dae dat ek sit en dink aan hulle en dan is daar ook baie dae dat ek net wil gaan waar hulle is.”

Deesdae loop sy en die drie kinders wat sy nog oorhet – Dezi (13), Patrick (8) en Daniël (4) – selde verby die brug. Dit is in elk geval nog met lemmetjiesdraad afgesper.

Sy verkies om haar kinders eerder in haar hart saam met haar te dra. En vir die drie jonges sê sy gereeld: “Julle is nog hier, ek hou julle styf vas.”

Dis al wat sy kan doen, bieg Rosetta. Die maande wat verby is, was veral vir hulle swaar. “Die kleintjies is gebreek, en wil weet waar is hul boeties en sussies,” sê sy.

Die gesin sal Oukersaand saam deurbring. Of daar geskenkies gaan wees, weet Rosetta, wat werkloos is, nog nie. “Ons is net dankbaar om nog mekaar te kan hê en saam te kan wees.”

Geen vordering met herstel van brug

Elf maande ná die ontploffing is die pad onderdeur die brug, asook die treinspoor bo-oor die brug steeds nie vir verkeer oopgestel nie.

Met Maroela Media se besoek Woensdag, het stukke van die vragmotor steeds onder die brug gelê, ʼn klipgooi weg van die Tambo Memorial-hospitaal.

Bo-op die brug het die treinspore verstrengeld gelê.

Volgens ʼn veiligheidswag word die toneel geplunder, al word dit met lemmetjiesdraad afgesper.

Rosetta sê niemand het veel hoop dat die brug binnekort herstel gaan word nie. Van haar skadevergoedingeis teen die Ekurhuleni-munisipaliteit het ook nog dadels gekom.

“Hier het iemand gekom en gesê hulle gaan ʼn gedenkmuur oprig vir al die slagoffers, maar wat daarvan geword het, weet ek nie,” sê Rosetta.

Zweli Dlamini, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê hy is nie bewus van planne vir ʼn gedenkmuur nie.

Hy het navrae oor hoekom die brug en pad nog gesluit is na Prasa verwys.

Andiswa Makanda, Prasa-woordvoerder, het nie dadelik op navrae hieroor reageer nie. Toe Maroela Media haar pols, het sy onderneem om later ʼn verklaring te stuur. Haar kommentaar sal bygewerk word.

Maroela Media het ook na RH Laywers Ingelyf, ʼn Johannesburgse prokureursfirma, uitgereik ná daar berig is oor ʼn klasaksie wat hulle namens die slagoffers behartig.

Franklin Mbiri het nie op herhaalde versoeke om kommentaar reageer nie. Dlamini kon ook nie dadelik bevestig of die munisipaliteit al ʼn dagvaarding in verband met die aksie ontvang het nie.

Brakpan-tragedie

Stukke van die gastenkwa het in die son gelê en roes. (Foto: Pieter Cloete / Maroela Media)

Brakpan-tragedie

Die laebrug waar ‘n gastenkwa op 24 Desember verlede jaar vasgehaak en toe later ontplof het. (Foto: Pieter Cloete / Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

annie ·

Ons vra nog die hele tyd wanneer begin die saak tov die brugtragadie maar dit word deur die ANC stil gehou en die skuldige beskerm. Waarom?

OU SAAR ·

Wat ń tragedie.
Rossetta, om 4 kinders gelyk aan die dood af te staan en nog staande te bly is bewonderenswasrdig.
My hart gaan uit na jou en al die ander slagoffers se familie.
Sterkte vir julle.

SwartBees ·

Almal (PRASA, Transnet, anc, pad ongelukke fonds…etc) laai eers hul groot swart karre vol geld en dan die bietjie wat nie kan in pas nie sal gaan vir die brug herstel werk, ook daar gaan verder geplunder word en van die oorblyfsels sal gaan aan die slagoffers van die tragedie.

electricmango ·

Jy is n sterk vrou, ek sou so verlies baie moeilik verwerk – indien ooit.

Di ·

Nee wat die korrupte kaders maak NIKS REG NIE! Daar is nie geld vir dit nie anders kan hulle nie verder vreet uit die trog nie. Nog nooit so klomp onbevoegde spul gesien wat ‘n land moet “REGEER” nie

Blikkies ·

Ek is baie jammer vir die mense wat geliefdes in die tragedie verloor het. Ek dink aan julle almal oor hierdie naderende Kers tyd.

Papsak ·

Ja shame sterkte vir die vrou en ander ook ek sal mal gewees by die tyd as dit my kinders was !!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.