11 dood ná dak by skool-gim in China meegee

Die tragedie het Sondag omstreeks 15:00 by die No. 34 Middle School in Qiqihar, in die Heilongjiang-provinsie, afgespeel (Foto: CNS/AFP)

Elf mense is dood toe die dak van ’n skoolgimnasium in die noordooste van China meegegee het.

Die tragedie het Sondag omstreeks 15:00 by die No. 34 Middle School in Qiqihar, in die Heilongjiang-provinsie, afgespeel.

Altesaam 19 mense was in die gimnasium toe die dak ineengestort het; 11 van hulle is dood, nog vier het betyds weggekom en vyf slagoffers is uit die puin gered.

Die nuusagentskap Xinhua berig die ineenstorting van die dak is veroorsaak deur konstruksiewerkers wat perliet – ’n vorm van vulkaniese glas – onwettig op die gebou se dak geplaas het.

Swaar reën het veroorsaak dat die perliet swel en al hoe swaarder word, wat daartoe gelei het dat die dak ingetuimel het.

’n Soek- en reddingsoperasie waarby sowat 160 brandweermanne en 39 brandweerwaens betrokke was, is ná die ineenstorting van stapel gestuur.

Kringtelevisiebeeldmateriaal van China Central Television (CCTV) wys dat die dak, gemaak van betonblaaie, in die geheel ineengestort het. Reddingswerkers het daarna deur groot stukke beton en gedraaide metaal gebreek in ’n poging om die slagoffers te bereik.

Een werker het ’n lugboor gebruik om deur die beton te breek.

’n Diepte-ondersoek is na die ongeluk van stapel gestuur en diegene in beheer van die bouperseel in aanhouding geneem.

’n Betroubare bron het op voorwaarde van anonimiteit aan Chongqing News gesê dat daar reeds voor die voorval kommer oor die veiligheid van die dak te kenne gegee is.

“Die gimnasium is meer as 20 jaar gelede gebou en begin al lankal op plekke ingee,” het die bron gesê. “Almal was bekommerd dat iets gaan gebeur met al die goed wat op die dak opgestapel is.”

Nywerheidsongelukke is algemeen in China weens lakse veiligheidstandaarde en die swak toepassing daarvan.

’n Ontploffing by ’n restaurant in die noordweste van China het verlede maand die lewe van 31 mense geëis. Dit het daartoe gelei dat ’n landwye veldtog van stapel gestuur is om veiligheid in die werkplek te bevorder.

’n Brand het in April in ’n hospitaal in Beijing uitgebreek wat tot die dood van 29 mense gelei het. Mense het uit desperaatheid by vensters uitgespring om aan die vlamme te ontkom.

Minstens 165 mense is in 2015 ook dood ná ’n reuseontploffing by ’n pakhuis met chemikalieë in Tianjin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.