12 dood in Mianmar-vliegongeluk

(Foto: Andre Tan/Unsplash.)

Altesaam 12 mense is dood toe ’n militêre vliegtuig in die sentrale streek van Mianmar neergestort het. Van die passasiers aan boord was ’n groep monnike wat na ’n Boeddhistiese seremonie in ’n klooster onderweg was.

Die vliegtuig, met ses bemanningslede en agt passasiers aan boord, het geval kort voordat dit in die stad Pyin Oo Lwin sou land. Slegs twee van die passasiers aan boord het die ongeluk oorleef.

Van al die bemanningslede, kon nooddienswerkers slegs ’n seun en ’n sersant red. Hulle is na ’n nabygeleë militêre hospitaal gestuur vir verdere mediese behandeling.

Zaw Min Tun, woordvoerder van die Mianmar-weermag, sê “gure weersomstandighede” kon ’n rol gespeel het.

’n Video wat deur plaaslike media bekendgestel is, toon hoe stukke van die vliegtuigwrak verspreid op die grond naby oorhoofse pilone lê. In die video wys dit ook hoe ’n bol rook van die vliegtuigwrak in die lug opbeweeg.

Kavisara, ’n senior monnik van die Zay Kone-klooster naby die hoofstad Naypyidaw, was een van sewe monnike aan boord wat na Pyin Oo Lwin gereis het om ’n godsdienstige geleentheid in ’n Boeddhistiese klooster by te woon.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.