174 sterf in Indonesiese sokkertragedie

Traangas is afgevuur in ‘n poging om ondersteuners te verjaag. (Foto: AFP)

Minstens 174 mense, onder wie kinders, is Saterdagaand tydens ʼn stormloop by ʼn Indonesiese sokkerstadion dood toe sowat 3 000 ontstoke ondersteuners die veld bestorm en polisiebeamptes met traangas gereageer het.

Ondersteuners van Arema FC het die sokkerveld by die Kanjuruhan-stadion in Malang bestorm nadat hul span met 3-2 teen die besoekende span (én bittere teenstanders) Persebaya Surabaya verloor het. Polisiebeamptes het traangas afgevuur in ’n poging om die situasie onder beheer te bring en duisende ondersteuners het na buite probeer vlug.

Talle ondersteuners is gevolglik vertrap terwyl talle ander versmoor het.

Pres. Joko Widodo het sedertdien ʼn ondersoek na die tragedie gelas. Widodo het ook beveel dat ʼn veiligheidsoorsig na alle sokkerwedstryde gedoen word en het die land se sokkervereniging opdrag gegee om alle wedstryde voorlopig op te skort totdat “sekuriteitsverbeterings” aangebring is.

Polisiebeamptes Saterdagaand op die sokkerveld waar die chaos uitgebreek het. (Foto: AFP)

“Ek is diep spyt oor hierdie tragedie en ek hoop hierdie sokkertragedie sal die laaste in ons land wees,” het Widodo gesê.

’n Hospitaaldirekteur het aan plaaslike TV gesê een van die slagoffers was vyf jaar oud.

Foto’s en video’s wat tydens die stormloop in die stadion geneem is, wys hoe die polisie groot hoeveelhede traangas afvuur en mense oor heinings klouter. Sommige dra beseerde toeskouers te midde van die chaos.

“Dit was so skrikwekkend, so skokkend,” het die 22-jarige oorlewende Sam Gilang, wat drie vriende in die stormloop verloor het, aan AFP gesê.

“Mense het mekaar gestamp en… baie is vertrap op pad na die uitgang. My oë het gebrand van die traangas. Ek het gelukkig daarin geslaag om teen die heining op te klim en te oorleef.”

Só lyk die stadion Sondagoggend. (Foto: PUTRI / AFP)

Uitgebrande voertuie waaronder ʼn polisievragmotor het Sondagoggend in die strate buite die stadion gelê. Die polisie het gesê altesaam 13 voertuie is gisteraand tydens die choas beskadig.

Aanhangersgeweld tydens kragmetings is ʼn groot probleem in Indonesië en Persebaya Surabaya-aanhangers is juis weens vrese vir geweld nie toegelaat om kaartjies vir gisteraand se wedstryd te koop nie.

Die wedstryd was nietemin uitverkoop. Die Kanjuruhan-stadion het plek vir 42 000 mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.