18-jarige skiet tien by winkel dood

Tien mense is Saterdag by die Tops-supermark in Buffalo, New York doodgeskiet. (Foto: John Normile / AFP)

Tien mense is Saterdag dood toe ’n 18-jarige man by ’n kruidenierswinkel in Buffalo, New York, in die VSA losgebrand het. Nog drie mense is tydens die skietery by die Tops-supermark beseer.

Joseph Gramaglia, polisiekommissaris, sê die swaargewapende man was van kop tot tone in wapenrusting geklee en is op die toneel in hegtenis geneem.

Die verdagte is sedertdien as Payton Gendron geïdentifiseer.

Volgens die polisie het Gendron die hele voorval boonop opgeneem en regstreeks gestroom. Die beeldmateriaal is egter twee minute ná die voorval onderskep en verwyder.

“Die aanvaller het vier mense in die parkeerterrein van die supermark geskiet en drie noodlottig gewond. Daarna het hy die supermark ingevaar en verder geskiet.

“Onder die slagoffers wat in die winkel doodgeskiet is, is ʼn afgetrede polisiebeampte wat as ʼn gewapende veiligheidswag gewerk het. Die wag het op die voorval gereageer en self skote op die aanvaller afgevuur. Hy is egter deur die aanvaller doodgeskiet.”

Gendron het sy vuurwapen by polisie se aankoms op die toneel glo teen sy eie nek gedruk, maar is deur die polisie oorreed om homself oor te gee.

Owerhede het intussen gesê dit was moontlik ’n rasgemotiveerde voorval, aangesien 11 van die slagoffers swart is. Gendron is wit.

Daar is glo ook ander bewyse van rasvyandigheid hoewel dié inligting nog nie aan die publiek bekendgemaak is nie.

Amerikaanse media berig dat owerhede ook ʼn omvattende manifes ondersoek wat voor die aanval gepubliseer is. In dié manifes verwys Gendron glo onder meer na die moskee-skietery wat Nieu-Seeland in 2019 geruk het.

Stephen Belgonia, ʼn spesiale agent by die Amerikaanse federale speurdiens (FBI), sê die saak word as ʼn “haatmisdaad én ’n saak van rasgemotiveerde gewelddadige ekstremisme” ondersoek.

Gendron staan nou op aanklag van moord tereg. Indien hy skuldig bevind word, kan hy ʼn lewenslange tronkstraf sonder ʼn kans op parool opgelê word. Hy word tans sonder borgtog aangehou.

John Garcia, sheriff van die Erie-distrik, het die aanval as “suiwer boosheid” beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Christine ·

Die woke Amerikaanse jeug is besig om die pad heeltemal byster te raak. Geen dissipline en geen respek is die groot oorsaak en dan die liberale manier van kinders grootmaak. Weereens NY.

Jean ·

Rassehaat of nie, Amerika het vêrs te veel sulke voorvalle.

Jaco ·

Wat dan nou van Joe Biden en sy hoogheilige Demokrate se “defund the police”, “human rights”, “a gun free society” en “healing America”? Sulke skietvoorvalle was dan, volgens die Demokrate, eerder eie aan die tyd wat “die rassistiese Trump” en sy Republikeine in beheer was. So hoe dan nou?

Gaitsigubib ·

Mens lewer kommentaar en die eienaardigste goed verskein. Ek het gese hulle is nogal gepla met ras in die berig. Ons moet seker aanvaar daar is ‘n ongeskrewe kode wat die fake nuus moet volg.

Gert ·

Wat gee hulle om as hy homself skiet dit spaar die polisie n koeël. So mens verdien nie om te lewe nie. Lewenslank sonder parool nogal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.