21 sterf toe bus olietenkwa, motorfiets in Afghanistan tref

(Foto: Helmand-inligtingsdepartement)

Minstens 21 mense is Sondag dood en 38 beseer in die suidelike Helmand-provinsie in Afghanistan toe ʼn bus ʼn olietenkwa en ʼn motorfiets getref het.

“Volgens die inligting wat ons tot dusver vroeër vandag ontvang het, is 21 mense oorlede in ʼn ongeluk tussen ʼn passasiersbus, ʼn olietenkwa en ʼn motorfiets,” het Mohammad Qasim Riyaz, ʼn provinsiale regeringsbeampte, aan AFP gesê.

Minstens 38 mense is in die botsing beseer.

Die voertuie het aan die brand geslaan tydens die ongeluk.

Die ongeluk het Sondagoggend op ʼn hoofweg tussen Kabul en Herat plaasgevind.

Dodelike verkeersongelukke is algemeen in Afghanistan weens swak paaie, nalatige bestuur en ʼn gebrek aan regulasie.

ʼn Olietenkwa het in Desember 2022 omgeslaan en aan die brand geslaan in die Salang-pas. Altesaam 31 mense is dood en talle het brandwonde opgedoen.

(Foto: Helmand-inligtingsdepartement)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.