24 Grand Slams – Novak is die tenniskoning!

Novak Djokovic spog vir die 24ste keer in sy loopbaan met ’n Grand Slam-titel. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Geskiedenis word nie noodwendig altyd herhaal nie.

Twee jaar nadat Novak Djokovic in die eindstryd van die Amerikaanse Ope teen Daniil Medvedev verloor het, het hy Sondagaand met sy Russiese teenstander afgereken om die 24ste Grand Slam-titel van sy loopbaan in te oes.

Die 36-jarige Serwiër het die wedstryd met 6-3, 7-6 en 6-3 gewen om Margaret Court se rekord vir die meeste individuele Grand Slam-titels te ewenaar.

Nadat hy tjoef-tjaf die eerste stel gewen het, moes hy ʼn Medvedev-terugvegpoging in die daaropvolgende stel afweer.

Die Rus het die krane oopgedraai en hy was goed op koers om die stel te beklink, maar Djokovic het oudergewoonte net na ʼn hoër rat oorgeskakel en beter in die belangrike oomblikke van die wedstryd gespeel.

“Dit is baie spesiaal om die tennisgeskiedboeke te herskryf. Toe ek sewe jaar oud was, het ek gedroom om die voorste speler in die wêreld te wees en om die Wimbledon-trofee omhoog te hou. Dit was al wat ek wou hê. Later het my drome en doelwitte groter vlerke gekry, maar nooit het ek aan 24 Grand Slam-titels gedink nie,” het die wêreld se topspeler gesê.

Die titel-gaping tussen hom en Rafael Nadal word ook al groter.

Die Spaanse tennisster spog met 22 Grand Slams, terwyl Roger Federer 20 groot titels agter sy naam het.

Medvedev, wat sy bes gedoen het om die Djokovic-segetrein te ontspoor, het die kampioenspeler se lof besing.

“Vier-en-twintig. Genugtig, hier dink ek dat my eie loopbaan heel oukei verloop met my 20 titels en jy het 24 Grand Slams! Jy is ʼn ongelooflike speler,” het die 27-jarige Rus gesê.

Moet ook nie dink dat Djokovic nou enigsins gaan briek aandraai nie. Volgens afrigter Goran Ivanisevic is hy nog oorgehaal om wedstryde te wen.

“Novak Djokovic is gebore om te wen en ʼn tennismeester. Wat sporttalent betref, is daar nie veel mense soos hy in die wêreld nie. As jy vir hom sê dat hy iets nie kan doen nie, sal hy alles in die stryd werp om jou verkeerd te bewys. Hy is ʼn genie,” het die Kroaat gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yolandie ·

Well gedaan Djokovic. Wat ‘n puik prestasie, van ‘n man wat altyd staan op sy punte en werk vir sy sukses. Baie geluk ou maat.

Wit Leeu ·

Wat ‘n legende ! Sjoe, dis ‘n eer om hom te sien speel. Knap gedaan Novak Djokovic !

Michael ·

Hy is beslis die beste tennisspeler ooit en moontlik ook die beste atleet ooit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.