3 dood, 20 vasgekeer in Indië-modderstorting

Reddingswerkers op die toneel by die modderstorting op die Reckong Peo-Shimla-pad in Himachal Pradesh (Foto: Nasionale rampdienste (NDRF)/AFP)

Reddingswerkers is Woensdag in Indië se Himalaja-noorde besig om tonne klippe en modder te verwyder ná ʼn bus met sowat 20 passasiers in ʼn modderstorting begrawe is. Minstens drie sterfte is tot dusver bevestig.

“Tien mense is tot dusver van die toneel gered en na hospitale geneem. Almal het beserings opgedoen, maar sal na verwagting herstel ná behandeling,” het ʼn plaaslike polisiebeampte van Himachal Pradesh, aangrensend aan Tibet, aan AFP gesê.

“Ons het gehoor daar was minstens 20 tot 22 mense op die bus, maar ons kon nog nie by die bus uitkom nie. Dit is nog steeds onder puin begrawe en klippe val steeds in die streek.”

Die Indo-Tibetaanse grenspolisie het gesê drie liggame is tot dusver van die toneel verwyder.

Eerste minister Narendra Modi het Woensdag met die staatsminister gepraat en die nasionale regering se ondersteuning aangebied vir die reddingsoperasie.

Televisiekanale wys foto’s van ʼn vragmotor en motors wat half onder die puin begrawe is.

Modderstortings is algemeen in Indië se noordelike Himalaja-streek, veral in die huidige moeson-seisoen met sy swaar reën. Paaie in die gebied word ook nie goed in stand gehou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.