5,6 ton se kokaïen in Spanje gevind

’n Foto wat deur die owerhede gedeel is, wys ’n hoop plastiek-toegedraaide stene – wat die kokaïen is – met die woord “rey” (koning), in vet letters daarop geskryf (Foto: Twitter)

Spaanse owerhede het Woensdag op 5,6 ton se kokaïen ter waarde van meer as €340 miljoen (sowat R5,9 miljard) beslag gelê in die hawe van Valencia.

Dit is die grootste dwelmvonds die afgelope vier jaar.

Die polisie het die dwelms gevind tydens ’n deursoeking van ’n verdagte skeepsvraghouer wat in dié Mediterreense hawe, een van Europa se besigste hawens, van Suid-Amerika aangekom het.

’n Foto wat deur die owerhede gedeel is, wys ’n hoop plastiek-toegedraaide stene – wat die kokaïen is – met die woord “rey” (koning), in vet letters daarop geskryf.

Die owerhede het die ondersoek al verlede jaar begin nadat hulle agterdogtig geraak het dat kriminele bendes die wettige invoer van vrugte en groente uitbuit om dwelms “van die ander kant van die Atlantiese Oseaan” na Spanje te bring.

’n Guardia Civil-woordvoerder in Valencia het gesê die ondersoek duur voort en daar was tot dusver geen inhegtenisnemings nie.

Die owerhede het nie gesê wanneer die operasie plaasgevind het of van watter land die houerskip aangekom het nie.

Die aankondiging van die dwelmvonds kom twee dae nadat Europol gesê het wetstoepassingsowerhede in ses verskillende lande, insluitend Spanje, het ’n “superkartel” van dwelmsmokkelaars, wat ongeveer een derde van die kokaïenhandel in Europa beheer, verwyder.

Spanje se Guardia Civil het gesê altesaam 15 mense is in die land in hegtenis geneem as deel van daardie gesamentlike operasie.

Die kartel sou kokaïen van Panama na Spanje bring via die Mediterreense hawens van Algeciras, Barcelona en Valencia en sou die geld wat dit verdien het deur die koop van eiendom aan Spanje se suidkus was.

Spanje se nabyheid aan Noord-Afrika, ’n sleutelbron van hasjisj (’n dwelm wat vervaardig word deur dele van die kannabisplant saam te pers en te verwerk), en sy noue bande met voormalige kolonies in Latyns-Amerika, die wêreld se vernaamste kokaïenproduserende streek, het dit ’n poort na Europa vir dwelms gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

Nee, nie solank daar ‘n vraag daarna is en die wêreld sosio-ekonomies in so ‘n haglike toestand is

Wondermaarnet ·

Dankie tog dit is gevind. Al is dit ‘n druppel in die emmer, gaan dit steeds die fat cat se sak raak.

Niklaas ·

Daars net teveel geldelike gewin in daardie mark vir soveel groot visse agter die skerms , so dit sal nooit beheer of gestop kan raak nie.

Vriendelike Frikkie ·

Hulle moet die goed vrystel dat elkeen dit gebruik soos hulle wil. Maak dan ‘n kamp buite elke dorp waar hulle mekaar kan vermaak. Gaan haal net elke dag die lyke en veras dit. Binne ‘n jaar behoort die aanvraag daarna te verminder of verdwyn. Dit het gebeur met pornografie. Toe dit vrylik beskikbaar geword het was daar so ‘n jaar wat woelig was en nou hoor ons nie eers meer daarvan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.