68 sterf in tronkgeveg

Weermaglede buite die Guayas 1-tronk in Ecuador waar onluste die naweek uitgebreek het. (Foto: Fernando Mendez / AFP)

Minstens 68 gevangenes is die afgelope naweek dood en 25 beseer toe ʼn oproer by die Guayas 1-tronk in Guayaquil, Ecuador, in ʼn bloedbad ontaard het.

Lede van mededingende bende het tronkbewaarders uitoorlê en mekaar met vuurwapens, plofstof en lemme aangeval. Dié bende word met dwelmhandelsindikate verbind.

Die voorval het by dieselfde tronk plaasgevind waar 119 mense in September vanjaar hul lewe verloor het – ook weens ʼn gewelddadige oproer.

Die oproer het reeds Vrydagaand begin en volgens Pablo Arosemena, goewerneur van die provinsie Guayas waar dié tronk geleë is, het die bendelede soos “barbare” baklei.

ʼn Tweede geveg het Saterdag uitgebreek en is later deur die polisie in bedwang gebring.

“Help hulle”

AFP berig polisiebeamptes is Saterdag gewaar waar hulle “bloedbevlekte tronkmure” uitgeklim het, terwyl die liggaam van ʼn gevangene in ʼn oranje oorpak op die dak van die tronk gelê het.

Foto’s en video’s – oënskynlik van die gewelddadige voorval – is intussen op sosiale media versprei. Die polisie het egter nog nie die egtheid hiervan bevestig nie.

In een van dié video’s pleit ʼn tronkgevangene – oënskynlik vanuit die afdeling wat aangeval is – om hulp.

“Ons is in ons afdeling toegesluit. Hulle wil ons almal doodmaak. Deel asseblief hierdie video. Help ons, asseblief,” sê die gevangene terwyl geweerskote in die agtergrond klap.

Talle mense het Saterdag buite die tronk saamgedrom, van wie die meeste wou weet of hul geliefdes aan die binnekant nog leef.

“Hulle is mense, help hulle,” het een van die plakkate van ʼn lid van die publiek gesê.

Felix Gonzales, die pa van ʼn gevangene, het met sy seun se identiteitskaart by ʼn plaaslike lykshuis opgedaag om vas te stel of sy liggaam dalk daar is.

“Dis nie regverdig dat hy moet doodgaan omdat hy ʼn selfoon gesteel het nie,” het Gonzales later aan AFP gesê. Die lot van sy seun is nie bekend nie.

Meer as 300 gevangenes is vanjaar in tronke in Ecuador dood – hoofsaaklik weens bendegeweld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Hoekom nie net die hekke sluit, en laat hulle mekaar uitmoor? Dis nou 68 minner vir die Ecuador belastingbetalers om voor te sorg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.