900 brandbestryders spook met yslike brand in Frankryk

Brandbestryders op die toneel naby Besseges in die suide van Frankryk (7 Julie 2022) (Foto: Sylvain Thomas/AFP)

Meer as 900 brandbestryders en brandbestrydingsvliegtuie is Vrydag ontplooi om ʼn massiewe brand te bestry in Frankryk se suidelike Gard-streek. Meer as 600 hektaar is oornag verwoes.

“Die brand is nog glad nie onder beheer nie,” sê Eric Agrinier, ʼn senior lid van die brandweer. “Daar is gebiede wat nie begaanbaar is nie en ons het nog glad nie daar uitgekom nie. Die brand versprei hier vrylik. Dit gaan baie uithouvermoë verg.”

Die brandbestryders het deurnag gewerk aan die brand wat laat Donderdag uitgebreek het. Brandbestryders poog om residensiële gebiede te beskerm. “Ons brand sommige dele (van die woud) sodat wanneer die brand versprei, dit ʼn sone bereik wat reeds gebrand is. Dit veroorsaak dat die brand nie so vinnig kan versprei nie,” sê Jacques Pages van die brandweer.

Nooddienste het dit as ʼn “mega-brand” beskryf. Dit het naby Bordezac uitgebreek en Besseges en ander woongebiede is reeds Donderdagaand ontruim.

Plaaslike owerhede sê sowat 100 mense het skuiling gaan soek in vakansiehuise en restaurante in die gebied, sowat 90 km noord van Montpellier en die kusgebied aan die Middellandse See.

“Ek het kamers vir mense gekry en al die gastehuise doen dieselfde,” het Regine Marchand, bestuurder van ʼn nabygeleë restaurant in Aujac, gesê. “Ons het vir hulle pasta gemaak. Mense moes vinnig ontruim – hulle kon nie enigiets saamvat nie. Hulle is egter in goeie luim, daar is ʼn goeie atmosfeer.”

Mense se huise was Vrydag nie meer in gevaar nie. Dit is slegs ʼn motorhuis en ʼn klein hut wat beskadig is.

Die Gard-brandweer het Vrydagoggend gesê 13 brandbestryders het geringe beserings opgedoen.

Twee vliegtuie stort al sedert vroegoggend water en werk saam met die brandbestryders op die grond. Twaalf brandbestrydingsvliegtuie en twee helikopters is Donderdag ontplooi.

Paaie is vir verkeer in Besseges gesluit. Honderde brandbestryders bly op die toneel.

Die suidooste van Frankryk het vanjaar deur ʼn erge droogte deurgeloop en dit het die risiko vir brande verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Annette ·

Baie sterkte aan elke brandweerman wat onder sulke moeilike omstandighede werk om ander se lewens en eiendom te beskerm. Julle is almal helde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.