Aanhangers glo dís hoekom Henry Cavill gewilde Netflix-reeks verlaat

Henry Cavill in ‘n toneel uit “The Witcher”. Foto: (Katalin Vermes/Netflix via AP)

Aanhangers van die gewilde Netflix-fantasiereeks The Witcher glo Henry Cavill se lojaliteit aan die boeke waarop dié reeks gebaseer is, is die rede waarom hy besluit het om Geralt van Rivia se swaard aan ʼn ander akteur oor te gee.

Dié stroomreus het Saterdag in ʼn amptelike verklaring aangekondig dat die Hunger Games-akteur Liam Hemsworth die rol van Geralt by Cavill in dié trefferreeks se vierde seisoen sal oorneem.

The Witcher is gegrond op Andrzej Sapkowski se reeks boeke en gewilde rekenaarspeletjies van dieselfde naam.

Cavill, wat deesdae ook die rol van Superman vertolk, het sy debuut as dié reeks se monsterjagter Geralt in Desember 2019 gemaak. Die komende derde reeks sal dus sy laaste seisoen in Geralt se skoene wees.

“My reis as Geralt van Rivia was gevul met monsters sowel as avonture, maar ek sal helaas my medalje en my swaarde vir seisoen vier neerlê,” het Cavill in ’n verklaring gesê.

“In my plek sal die fantastiese mnr. Liam Hemsworth die mantel van die Wit Wolf opneem. Liam, hierdie karakter het ’n wonderlike diepte aan hom, geniet dit om in te duik en te sien wat die hy jou bied.”

Liam Hemsworth. (Foto: Twitter.)

Hemsworth, wie se ouboet Chris die rol van Marvel se Thor vertolk, het in ʼn sosialemediaplasing geskryf dat hy self ook ʼn groot aanhanger van dié reeks is en geëerd voel om die rol by Cavill oor te neem. “Ek het dalk ’n paar groot skoene om te vul, maar ek is werklik opgewonde om in The Witcher se wêreld te tree.”

Cavill het nie ʼn amptelike verduideliking gegee het waarom hy besluit het om dié gewilde reeks verlaat nie.

Forbes berig dat Cavill sedert sy kinderjare ʼn groot aanhanger van dié reeks is en daarom ontevrede was oor Netflix se besluit om toenemend van die boeke se storielyn af te wyk. ʼn Ander verduideliking is dat The Witcher se produksieskedule met dié van ʼn nuwe Superman-projek bots.

Talle Cavill-aanhangers het Forbes se verduidelik op sosiale media beaam en daarop gewys dat die akteur deurentyd geskimp het oor sy ontevredenheid dat die boeke en reeks dikwels nie met mekaar ooreenstem nie.

“Ek is ’n groot aanhanger van die boeke en om lojaal aan hulle te bly gaan dit daaroor om seker te maak daardie storie gebeur sonder te veel afleidings of bysake,” het die Superman-akteur destyds in ʼn onderhoud op Netflix se YouTube-kanaal gesê.

Ander aanhangers het gedreig om dié reeks se vierde seisoen – wat eers volgende jaar die lig sal sien – te boikot toe die nuus oor Cavill se vertrek bekend gemaak is.

Bronne: Netflix Tudum, Forbes, The Hollywood Reporter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

B-Man ·

Henry is ook seker nie meer langer lus vir die “woke”-kultuur wat alles oorneem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.