Aanlyn polisie patrolleer Deense internet

Geklee in uniform wanneer hulle besig is met ʼn aanlyn patrollie, is hul primêre teikens sekspeste en ekonomiese misdadigers. (Foto: Sergei Gapon/AFP)

By Denemarke se polisiehoofkantoor sit verskeie beamptes vasgenael agter hul rekenaarskerms en speel die gewilde videospeletjie Counter-Strike. Maar hulle hou nie pouse nie – hulle is op die spoor van aanlyn misdaad.

Benewens dat hulle betaal word om te speel, is die aanlyn patrollie-eenheid ook op Twitch, Discord, Instagram, Facebook en TikTok – en hulle maak hul teenwoordigheid openlik bekend met die doel om die kuberwêreld ʼn veiliger plek vir kinders en volwassenes te maak.

Geklee in uniform wanneer hulle besig is met ʼn aanlyn patrollie, is hul primêre teikens sekspeste en ekonomiese misdadigers.

Die eenheid van tien lede is verlede jaar op die been gebring te midde van ʼn styging in aanlyn misdaad tydens Covid-19-inperkingstye.

“Op dieselfde manier wat jy ʼn polisiemotor in die strate sien rondry, kan jy ʼn polisiebeampte met ʼn amptelike naam in die aanlyn wêreld teëkom,” sê patrolliehoof Sisse Birkebaek.

Mirriam Michaelsen, ʼn prokureur en stigter van ʼn vereniging wat digitale aanspreeklikheid bevorder, vra al lankal dat die polisie ook die internet monitor.

“As jy met jong mense praat, sien hulle nie ʼn verskil tussen die werklike en die digitale wêreld nie – met een uitsondering: hulle sien die hele tyd polisiebeamptes op straat,” sê sy.

“Wanneer jy die polisie sien verbyry, kan dit ʼn uitwerking op die slagoffers hê, maar ook op misdadigers. Dit is presies dieselfde aanlyn.”

Buurtwagpatrollie

Sedert die eenheid in April verlede jaar geskep is, het “Poltiets Online Patrulje” reeds meer as 65 sake aanhangig gemaak.

“Ons sien talle voorvalle van seksuele gereedmaking en pogings om jongmense te teister; mense wat geld by hulle probeer vat en diefstalskemas in die aanlyn gemeenskap,” sê Birkebaek.

Verskeie kere per maand speel Jeppe Rimer Torup en sy kollegas dus CS:GO, Fifa of Fortnite.

Onder die name Beampte 1 tot Beampte 4, speel hulle videospeletjies, doen waarnemings en bou kontakte op, nes hulle in ʼn regte buurt op ʼn fisieke patrollie sou doen.

Op Twitch kondig hulle hul teenwoordigheid aan en vra dan vrywilligers om by hulle aan te sluit en saam met hulle te speel, verduidelik Rimer Torup, ʼn 36-jarige polisiebeampte.

“Ons is gaandeweg besig om ons volgelinge te vermeerder.”

Die eenheid het reeds 127 000 volgelinge op TikTok, 22 000 op Twitch, 10 000 op Facebook en 6 000 op Instagram.

Hulle is gewoonlik openlik oor wie hulle is, hoewel hulle soms ook onder ʼn dekmantel werk.

Op ʼn gewone dag sal die eenheid by ʼn Facebook-groep aansluit, hul teenwoordigheid bekend maak en mense aanmoedig om enige te vrae te vra. Die meeste van die tyd werk dié benadering baie goed, sê Rimer Torup. En sedert hulle met die projek begin het, het die polisiebeamptes al meer as 5 200 wenke ontvang.

Groot steun

Die eenheid se finansiering word op ʼn jaarlikse grondslag hersien, maar Rimer Torup sê hulle hoop dit word ʼn permanente instelling.

“Ek dink nie ons kan al die probleme met digitale geweld met ʼn aanlyn patrollie soos hierdie oplos nie, maar as ons dalk tien of vyftien of twintig mense kan help op ʼn manier wat hulle nie vantevore gehelp sou kon word nie, het ons ʼn verskil gemaak,” sê hy.

Mikkel Olsen, nog ʼn patrollielid, sê die eenheid se werk word deurlopend aangepas namate sosiale media en die internet verander.

Die eenheid geniet groot steun in ʼn progressiewe Deense samelewing waar daar groot agting vir die polisie is. Volgens syfers het 87% van Dene vertroue in die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pierre ·

In die RSA het meer as 87% van die mense GEEN vertroue in die polisie nie.

Lourens ·

Oh how I love you, Big Brother!!
Dis die laaste gedagte voordat die skoot agter jou klap, volgens Orwell se “1984”

Nettie ·

Ek verstaan Lourens, maar kinders speel hierdie speletjies en benodig beskerming en toesighouding. Vir my as ouer is dit ‘n gerusstelling en ek wens daar was meer van hulle. Maar uit Dene, waar mens hulle (hopelik) nog kan vertrou om die werk van die polisie en nie die krimineel te verrig nie!!

Marthinus W ·

Ek hou nie hiervan nie. Jy het dus geen vryheid meer nie. Big Brother hou jou nou dop. (My niggie verkoop n produk “H”; sy is n geregistreerde konsultant, en adverteer op Instagram. Hulle skop haar gedurig af, want hulle se sy is n krimineel. Wat is die nut dan van sosiale media?

KatjieDeKat ·

Big Brother het jou nog altyd dopgehou. Van die begin vd internet. Why do you think they let us have it??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.