Aanvalle op hulpwerkers was ‘fout’, erken Israel

(Foto: AFP)

Israel sê sy hommeltuigspan het ʼn “gewapende skieter van Hamas” geteiken toe hulle Maandag drie lugaanvalle op hulpwerkers van die Amerikaanse liefdadigheidsorganisasie World Central Kitchen (WCK) in Gaza uitgevoer het.

Sewe vrywilligers is tydens die lugaanvalle gedood.

ʼn Interne Israeliese militêre ondersoek het intussen bevind dat die hommeltuigspan ʼn oordeelsfout begaan het nadat die span glo ʼn vermeende Hamas-skieter bo-op een van die organisasie se hulpvragmotors gewaar het.

Maroela Media het vroeër berig sewe werknemers van WCK is gedood kort nadat hulle kosvoorraad by ʼn pakhuis afgelaai het.

Die span het in ʼn konvooi, met onder meer twee gepantserde voertuie met die organisasie se handelsmerk daarop, in ʼn ooreengekome konflikvrye sone gereis toe dit getref is.

Die afgetrede Israeliese generaal Yoav Har-Even, wat die interne ondersoek lei, het Vrydag erken dat “die drie lugaanvalle strydig was met standaard-bedryfsprosedures”.

Die span het Maandag ná die aflewering om 23:09 in ʼn suidelike rigting gery toe die hommeltuig aanvanklik een voertuig in die konvooi tref en mense identifiseer wat uit die motor spring en na ʼn tweede voertuig hardloop.

“Hulle het besluit om die motor ook te teiken, wat teen standaard-bedryfsprosedures was. Toe tref hulle die derde motor.”

Har-Even voer egter aan die “denkwyse” van die Israeliese hommeltuigbevelvoerders “was dat hulle motors getref het waarop Hamas beslag gelê het” nadat hulle in die donker ʼn sak met ʼn vuurwapen verwar het.

Die generaal kon egter nie aan AFP verduidelik wat van die “Hamas-skieter” geword het nie.

(Foto: AFP)

Har-Even sê hoewel WCK se logo op die dakke van die hulpwerkers se drie voertuie gedruk was, kon die hommeltuig se kamera dit nie in die donker waarneem nie.

Hulpvoorraad word in dié stadium snags vervoer om dodelike stormlope deur verhongerde Palestyne in Gaza te vermy.

“Die grootste fout was egter dat [die hommeltuigspan] nie die koördineringsplan gehad het nie,” meen Har-Even. “Hulle het geglo dat die voertuie dié van Hamas was; dit is gegrond op operasionele misrekening en wanklassifikasie.”

Die twee offisiere wat opdrag vir die drie lugaanvalle gegee het, ʼn kolonel en ʼn majoor, word afgedank.

“Dit is ʼn tragedie. Dit is ʼn ernstige fout waarvoor ons verantwoordelik is,” het Daniel Hagari, Israeliese militêre woordvoerder, gesê.

“ʼn Reusevoorval … wat nie moes gebeur het nie. Ons sal seker maak dit gebeur nie weer nie.”

WCK dring intussen daarop aan dat ʼn onafhanklike kommissie die voorval ondersoek aangesien die Israeliese weermag “nie sy eie mislukking geloofwaardig” kan ondersoek nie.

Pole, wat ook ʼn burger in die aanvalle verloor het, eis ’n strafregtelike ondersoek.

“Ons wil hê dat [Poolse] aanklaers betrek word by die verduidelikings en in die hele strafregtelike en dissiplinêre prosedure vir die soldate wat verantwoordelik is vir hierdie … moord,” het Andrzej Szejna, Pole se adjunkminister van buitelandse sake, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.