Aappokke ook nou in Oos-Asië

Gesondheidswerkers kyk of mense wat van oorsee af kom simptome van aappokke het. (Foto: Arun Sankar/AFP)

Aappokke het nou begin kop uitsteek in die ooste van Asië nadat Singapoer en Suid-Korea vandeesweek hul eerste gevalle van hierdie virus aangemeld het.

Dié lande is die jongste van sowat 40 lande in die wêreld waar aappokke aangemeld is.

Owerhede in Singapoer het bevestig dat ʼn 42-jarige lugwaardin hierdie virus opgedoen het. Die Britse inwoner vlieg al geruime tyd in en uit Singapoer en het Maandag positief vir aappokke getoets. Verdere inligting oor die pasiënt is nie in hierdie stadium bekend nie.

Singapoer het sy laaste geval van die virus in 2019 aangemeld.

Ure ná Singapoer se aankondiging het Suid-Korea bevestig dat sy eerste geval van die virus in Seoel opgemerk is.

Volgens Korea se agentskap vir siektebeheer en -voorkoming het die 30-jarige Suid-Koreaanse burger Dinsdag uit Duitsland aangekom waar dié moontlik die virussiekte opgedoen het.

Die pasiënt, wie se identiteit weerhou word, het verlede naweek ʼn koors ontwikkel wat toe vererger het na erge moegheid en ʼn veluitslag.

Peck Kyong-ran, hoof van die land se siektebeheeragentskap, sê die pasiënt het by owerhede in die lughawe aangemeld voordat daar enige verdere kontak met ander burgers gemaak is. Die pasiënt ontvang tans die nodige behandeling, maar verdere besonderhede hieroor is nie bekend nie.

Kyong-ran het mense wêreldwyd aangemoedig om eers by die nodige owerhede aan te meld indien hulle van ʼn ander land afkomstig is waar gevalle van aappokke aangemeld is en self enige simptome toon wat met hierdie siekte verband hou.

“Die belangrikste ding is om die verspreiding van die siekte te voorkom.”

Sedert Januarie is meer as 2 100 bevestigde gevalle van aappokke in altesaam 42 lande aangemeld.

Frankryk het Dinsdag gesê dat sy gevalle binne vyf dae met byna 100 gestyg het. Tot op hede is 277 gevalle in Frankryk aangemeld, terwyl daar nog nie enige sterftes in die land aangemeld is nie. ʼn Vrou is ook onlangs vir die eerste keer in dié land met aappokke gediagnoseer.

Die grootste oorsaak van oordrag blyk steeds weens seksuele aktiwiteite onder mans te wees, hoewel aappokke nie ʼn seksueel oordraagbare siekte is nie.

Met Frankryk se eerste vrou wat met aappokke gediagnoseer is, het sy nasionale openbare gesondheidsagentskap gesê dat hy nou hard aan die werk is om die manier waarop die siekte oorgedra word, te ondersoek.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sal na verwagting Donderdag ʼn noodvergadering hou om te bepaal of die wêreldwye uitbreking van aappokke, wat normaalweg net tot enkele lande en enkele gevalle geïsoleer is, ʼn openbaregesondheidsbekommernis is wat internasionaal as sodanig geklassifiseer moet word.

Dit ten spyte daarvan dat die virus matige simptome toon en gewoonlik binne twee tot drie weke opklaar.

Brittanje wil entstof aan ‘kwesbare groepe’ gee

Brittanje se gesondheidsagentskap het Dinsdag voorgestel dat kwesbare groepe, soos mans wat selfde geslag omgang het, ʼn entstof teen die virus aangebied moet word om verdere verspreiding van die virus te bekamp.

Dié land het al 793 bevestigde gevalle van die siekte aangemeld.

Mary Ramsay, hoof van immunisering by die agentskap, het gesê kontakopsporing het al baie gehelp om die verspreiding van aappokke te beperk, “maar ons sien steeds ʼn noemenswaardige aantal gevalle – veral onder mans”.

“Deur die entstofaanbod uit te brei na diegene met ʼn groter risiko om die virus op te doen, hoop ons om die kettings van oordrag te verbreek en die jongste uitbreking in bedwang te bring.”

Die agentskap het voorgestel dat die entstof Imvanex aan diegene gegee word wat ʼn groter risiko loop om siek te word. Dié strategie is glo ook deur die regering se wetenskaplike adviesliggaam, die gesamentlike komitee vir inening en immunisering, goedgekeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Miskruier ·

Gevaarligte!! Kyk na aangehegte foto. ” rodents” is n draer en met ons dorp se vullis wat nie verwyder word, is daar baie ratte.

Pietertjie ·

Dit klink byna of daar hard gespook word om die volgende pandemie te laat posvat.

VaalDonkie ·

Wat ek graag wil weet is waarom aankope van daai enstof laasjaar al verhoog het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.