Aardbewing: Kinders lewend gevind; dodetal meer as 22 000

ʼn Reddingswerker tussen die puin in Jindayris (10 Februarie 2023) (Foto: Rami al Sayed/AFP)

Reddingswerkers het kinders Vrydag lewend uit puin gehaal terwyl die dodetal ná die Turkey-Sirië-aardbewing 22 000 verbygesteek het. Ysige weersomstandighede vererger die lyding van dakloses.

In Kahramanmaras, Turkye, een van die streke wat die swaarste getref is deur die streek se ergste aardbewing in byna ʼn eeu, hang die reuk van dood in die lug.

Turkse media berig egter jong kinders is gered – lank ná die venster van 72 uur, die tydperk waarbinne slagoffers gewoonlik lewend gevind word.

Die 18 maande oue Yusuf Huseyin is ná 105 ure lewend uit die puin in die suidoostelike stad Antakya gevind. Twintig minute later is die sewejarige Muhammed Huseyin ook gered, het die NTV-nuuskanaal berig.

Die driejarige Zeynep Ela Parlak is Vrydag ook in Antakya gered. In Akyaman het reddingswerkers die 60-jarige Eyup Ak gevind en in Gaziantep is twee mense lewend uit die puin gehaal insluitend ʼn kind, wie se ouderdom onbekend is.

“Ons het ʼn halfuur gelede twee mense lewend uit die puin gehaal,” het die Tsjeggiese brandweer Vrydag op Twitter gesê. Hul spanne is bedrywig in Adiyaman.

Die toneel in Kahramanmaras, Turkye. (Foto: Ozan Kose/AFP)

Reddingswerkers het Donderdag ʼn 10 dae oue baba en sy ma lewend gevind nadat hulle 90 uur lank in Hatay onder puin vasgekeer was, het Turkse owerhede gesê. Die babaseuntjie, Yagiz Ulas, is gou in ʼn termiese kombers toegedraai.

Turkse mynwerkers, kenners in pogings om hul eie kollegas te red, het vertel hoe hulle gejaag het om mense te red wat in Maandag se aardbewing van 7.8 vasgekeer is. “Ons harte kon dit nie hou nie,” sê mynwerker Ismail Hakki Kalkan.

Die liggame van sewe kinders van Siprus, asook twee onderwysers en ʼn ouer wat in die aardbewing in Adiyaman omgekom het, is Vrydag huis toe gevlieg. Turkse media berig 19 kinders van die skoolgroep is oorlede. Altesaam 24 kinders, tussen 11 en 14 jaar oud, van die eiland, het saam met 10 ouers, vier onderwysers en ʼn vlugbalafrigter Turkye besoek vir ʼn skooltoernooi. Hulle het in ʼn hotel gebly wat verwoes is.

In ʼn streek waar talle reeds haweloos is en getraumatiseer is deur Sirië se burgeroorlog, is daar groot kommer oor die hoeveelheid mense wat te midde van vriesende temperature sonder skuiling gelaat is. Temperature in Gaziantep, Turkye – naby die episentrum van die aardbewing, het Vrydagoggend tot -3°C gedaal. Ondanks die koue, bly duisende gesinne in motors en tydelike tente – te bang of verbied om terug te keer huis toe. Gimnasiums, moskees, skole en sommige winkels is in die aande oop, maar beddens is skaars en duisende bly deurnag in hul motors met die enjins wat luier om warm te bly.

Hulp- en reddingspanne van die Verenigde Nasies het in die land aangekom en die Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling het ʼn hulppakket van $85 miljoen aangebied wat kos, skuiling en noodgesondheidsdienste insluit.

Tedros Adhanom Ghebreyesus, hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie, en Martin Griffiths, humanitêre hoof by die VN, beplan albei om die streek te besoek.

Maandag se aardbewing is die ergste in Turkye sedert 1939 tot 33 000 mense in Erzincan oorlede is.

Beamptes en mediese personeel sê 18 991 is dood in Turkye en 3 377 in Sirië. Die dodetal staan tans op minstens 22 368. Die vrees bestaan dat dié getal verder sal styg.

Intussen is daar woede oor die regering se hantering van die ramp. “Mense wat nie weens die aardbewing gesterf het nie, kom om in die koue,” het Hakan Tanriverdi aan AFP in Adiyaman gesê.

Tydens ʼn besoek aan die gebied het Turkse president Recep Tayyip Erdogan erken daar was “tekortkominge” in die regering se hantering van die ramp.

In Nurdagi, Turkye, maak nooddienswerkers van hommeltuie en hitte-opsporingstoestelle gebruik om slagoffers te soek. Hulle beveel stilte wanneer ʼn moontlike slagoffer opgespoor word. “Die stilte is verskriklik. Ons weet nooit wat om te verwag nie,” sê Emre, ʼn plaaslike inwoner.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.