Agt beseer in terreuraanval op bus in Jerusalem

Veiligheidsmagte ondersoek ʼn bus ná ʼn aanval buite Jerusalem se Ou Stad (14 Augustus 2022) (Foto: Ahmad Gharabli/AFP)

Die Israeli-polisie het Sondag gesê ʼn verdagte is in hegtenis geneem in verband met ʼn skietery op ʼn bus in Jerusalem is Ou Stad. Agt mense is beseer, waarvan twee kritieke beserings opgedoen het. Een van die slagoffers is ʼn swanger vrou.

“Die terroris is in ons hande,” het polisiewoordvoerder Kan Eli Levy aan staatsradio gesê ure ná die aanval naby aan die Westelike Muur.

ʼn Skieter het in die vroeë oggendure op die bus en mense buite die voertuig losgebrand, het die busbestuurder Daniel Kanievsky gesê. “Ek het van die Westelike Muur af gekom. Die bus was vol passasiers.”

Hy het by die bushalte stilgehou toe die skieter losgebrand het. “Ek het twee mense buite sien val. Twee in die bus het gebloei. Almal was paniekbevange.”

Israel se nooddienste, die Magen David Adom (MDA) het die voorval as “ʼn terreuraanval in die Ou Stad” beskryf. “Ons was baie vinnig op die toneel,” het MDA in ʼn verklaring gesê. “Ons het die passasiersbus in Ma’ale Hashalomstraat gesien. Omstanders het ons ontbied om twee mans, ongeveer 30 jaar oud, te behandel. Hulle was in die bus toe hulle geskiet is.”

MDA-woordvoerder Zaki Heller het aanvanklik gesê ses mans en ʼn vrou is beseer, en al sewe was “by hul volle bewussyn”, voor die polisie die getal na agt aangepas het.

Een van die slagoffers was ʼn swanger vrou. Haar baba is net ná die aanval gebore, het Shaarei Tsedek, ʼn woordvoerder vir die hospitaal, aan AFP gesê. “Sy is steeds in ʼn ernstige toestand. Die baba is gebore en is in ʼn ernstige maar stabiele toestand.”

Die Israeli eerste minister Yair Lapid sê die polisie, weermag en ander veiligheidsdienste het ná die aanval “gewerk om die terroris aan te keer en ons sal nie rus totdat hy gevang is nie”. “Enigiemand wat ons aanval moet weet dat hulle ʼn prys sal moet betaal vir enigiets wat met ons burgers gebeur,” het hy in ʼn verklaring gesê.

Die polisie en die weermag is besig om kalmte en veiligheid in die stad te herstel.

Die Palestynse Islamitiese groep Hamas, wat die Gazastrook beheer, het die “heldhaftige operasie” geloof. Hulle het nie aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar nie.

Die skietery kom ʼn week ná ʼn drie dag lange konflik tussen Israel en die Islamitiese Jihad-militante in die digbevolkte Palestynse enklawe van Gaza.

Minstens 49 Palestyne, insluitend Islamitiese Jihad-vegters en kinders, is dood in die geweld wat Sondag tot ʼn einde gekom het toe Egipte ʼn wapenstilstand onderhandel het.

Negentien mense, hoofsaaklik Israelse burgers in Israel, is sedert Maart oorlede in aanvalle, hoofsaaklik deur Palestyne. Drie Israeli Arab-aanvallers is ook dood.

Israeli-veiligheidsmagte het ná die aanvalle klopjagte uitgevoer in die besette Wesoewer. Meer as 50 Palestyne is sedertdien dood, insluitend vegters en burgers in bedrywighede en voorvalle in die Wesoewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Truth2bfree ·

Sjoe, hulle lewe in erge vrees met al die aanvalle rondom hulle. Elke week is daar nuwe hartseer stories.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.