Airbnb-besprekings bereik rekordhoogte

Airbnb (Foto: Pixabay)

Airbnb het Dinsdag aangekondig dat sy inkomste in die eerste kwartaal vanjaar minstens $2 miljard (R33 miljard) beloop het. Dit is ’n 58% styging van dieselfde tydperk verlede jaar.

Byna 104 miljoen nagte is tussen April en Junie op die platform bespreek, wat ’n rekordhoogtepunt vir dié korttermynhuurinstelling is.

Tydens die Covid-19-pandemie het Airbnb swaar getrek weens reisbeperkings, maar dit lyk of die maatskappy besig is om kop op te tel.

Die maatskappy het gesê dit is nou in die middel van sy sterkste spitssomerreisseisoen nog, en hy het beleggers verseker dat hy gereed is vir wat ook al die ekonomie kan tref.

Die maatskappy het op 4 Julie sy hoogste inkomste in ʼn enkele dag aangeteken, wat hy sê ’n voorsmakie is van die winsgewende somerseisoen wat voorlê.

Brian Chesky, uitvoerende hoof van Airbnb, sê die maatskappy het nou “groei en winsgewendheid van skaal” behaal. “Die maatskappy sal voortgaan om in die onderneming te belê, en het $2 miljard (R33 miljard) bestee om van sy eie aandele terug te koop,” het Chesky gesê.

Volgens Chesky is die tydperk waarvoor gaste verblyf bespreek, ook langer. “Byna die helfte van die maatskappy se besprekings is vir ’n week of langer.”

Reisaanvraag bly ook die hoogste in Noord-Amerika, waar besprekings met 37% gestyg het, vergeleke met 2019.

Volgens die maatskappy is die vraag na verblyf in die Asië-Stille Oseaan-streek steeds minder as voor die Covid-19-tydperk, aangesien Covid-19-beperkings Chinese toeriste steeds tuis hou. Airbnb het in Mei uit China onttrek.

Airbnb het sy onderneming ses jaar gelede in China begin en het verblyf daar vir sowat 25 miljoen gaste bespreek. Besprekings by koshuise in China het die afgelope jaar slegs 1% van Airbnb-besprekings uitgemaak, het die maatskappy berig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.