Al meer lande laat vaar AstraZeneca-entstof

AstraZeneca se Covid-19-entstof (Foto: Vano SHLAMOV / AFP)

Nederland het Sondag sy gebruik van AstraZeneca se Covid-19-entstof vir twee weke opgeskort nadat “moontlike newe-effekte” in ander lande aangemeld is.

Dié besluit volg kort nadat Ierland, Denemarke, Noorweë en Ysland die gebruik van AstraZeneca se entstof gestaak het ná bewerings van isoleerde gevalle waar pasiënte bloedklonte ontwikkel het nadat hulle die entstof ontvang het.

Italië en Oostenryk het intussen die gebruik van dosisse uit verskillende besendings van AstraZeneca se entstof verbied terwyl Thailand en Bulgarye hul gebruik van die entstof vir eers uitgestel het.

AstraZeneca hou egter vol dat daar géén verband tussen sy entstof en bloedklonte is nie. Die vervaardiger sê hy het die resultate van 17 miljoen dosisse ontleed en kon geen bewyse van verhoogde bloedklonte weens sy entstof vind nie.

Volgens die farmaseutiese maatskappy is die 15 gevalle van diep veneuse trombose (DVT) en 22 voorvalle van longembolie wat aangemeld is onder diegene wat die entstof ontvang het, “baie laer as wat verwag sou word om natuurlik en in die algemeen by ʼn bevolking voor te kom”.

“Die aard van die pandemie het in individuele gevalle tot groter aandag gelei. Wat betref voorvalle met betrekking tot entstowwe gaan ons selfs verder as die standaardpraktyke vir veiligheidsmonitering van gelisensieerde medisyne om openbare veiligheid te verseker,” sê Ann Taylor, hoof mediese beampte by AstraZeneca.

“Wat kwaliteit betref, is daar ook geen bevestigde probleme wat verband hou met enige van AstraZeneca se entstowwe wat in Europa of die res van die wêreld gebruik word nie.”

Andrew Pollard, direkteur van die Oxford Vaccine Group wat die entstof saam met AstraZeneca vervaardig het, sê daar is “baie gerusstellende bewyse dat daar geen toename in ʼn bloedklontverskynsel in die Verenigde Koninkryk is nie”.

Dié land het tot dusver die meeste dosisse van AstraZeneca se entstof in Europa toegedien.

Ook die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Europese Medisyne Agentskap (EMA) meen daar is geen rede om die gebruik van AstraZeneca se Covid-19-entstof te staak nie.

Die WGO se advieskomitee vir entstowwe het ook ondersoek ingestel en bevind dat daar geen oorsaaklike verband tussen die entstof en bloedklonte is nie. “AstraZeneca is ʼn uitstekende entstof, net soos die ander entstowwe wat gebruik word,” het Margaret Harris, woordvoerder van die WGO, tydens ʼn inligtingsessie in Genève aan verslaggewers gesê.

“Ja, ons moet voortgaan met die gebruik van die AstraZeneca-entstof.”

Harris het wel benadruk dat daar ondersoek ingestel moet word indien daar enige kommer oor die veiligheid van ’n entstof bestaan. Sy sê wel dat “die inenting teen Covid-19 nie sterftes weens enige ander oorsaak verminder nie”.

Volgens Harris is daar teen verlede week meer as 268 miljoen dosisse Covid-19-entstowwe sedert die aanvang van die pandemie toegedien. Nog geen sterftes weens entstowwe is aangemeld nie.

EMA het verlede week gesê hy is bewus van 30 sogenaamde trombo-embolie-gevalle onder die vyf miljoen mense wat die AstraZeneca-entstof  in Europa ontvang het.

Die Europese reguleerder hou ten spyte hiervan vol dat Europese lande steeds die entstof kan gebruik.

Dié lande is versigtig

Die premier van Thailand, Prayut Chan-O-Cha, sou na verwagting Vrydag die eerste persoon in dié land wees om met AstraZeneca se entstof ingeënt te word. Die land het egter die gebruik van die entstof gestaak weens die vrees vir bloedklonte.

“Inenting moet veilig vir die Thaise mense wees. Ons hoef nie haastig te wees nie,” het Piyasakol Sakolsatayadorn, ʼn adviseur van die land se Covid-19-inentingskomitee, tydens ’n mediakonferensie gesê.

“Hoewel die kwaliteit van AstraZeneca goed is, het sommige lande vir uitstel gevra. Ons sal ook uitstel,” het Sakolsatayadorn gesê.

Oostenryk het op sy beurt die gebruik van dosisse van ’n sekere besending gestaak nadat ʼn 49-jarige verpleegster dood is aan “ernstige bloedstollingsprobleme” dae nadat sy die entstof ontvang het.

Bulgarye het Vrydag die gebruik van AstraZeneca se entstof opgeskort om ondersoek in te stel na die dood van ʼn vrou met verskeie onderliggende toestande wat verlede week ingeënt is.

’n Voorlopige ondersoek het reeds daarop gedui dat die vrou weens hartversaking dood is. ’n Nadoodse ondersoek het ook geen verband tussen die vrou se dood en die inenting gevind nie hoewel daar op die finale uitslag van die lykskouing gewag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

gatgogga ·

As iemand ons s’n wil koop, sal ons ‘n honderd lokomotiewe ingooi.

Smirre ·

GROOT ASB, Stuur dit vir on regering, dit wat julle nie wil gerbruik nie, ent eerste die regering in met dit, moet nou nie dat dit vermors nie

Dirk Mostert ·

Dubbele standaarde: As jy positief toets en daarna in die Breerivier by Bonnievale gaan swem kan jy ‘n covid-sterfgeval word. As jy na ‘n enting sterf of komplikasies soos bloedklonte opdoen is dit weens ‘n reeds bestaande toestand en is daar geen verband nie.

Annelize ·

En dan word ek nog steeds skeef aangekyk omrede ek se nie ek of my gesin sal enige Covid enstof neem nie.

Karina ·

Ek stem saam met Annelize, ek sal nie die entstof kry nie, omdat my persoonlike bevoel is dat dit nog nie genoegsaam getoets is nie. “Inenting moet veilig vir Thaise mense wees, ons hoef nie haastig te wees nie” dink ek is die regte standhouding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.