Almal wil dié werk hê

Haast tokoeka (Foto: Department of Conservation)

Suid-Afrikaners is onder dié wat toustaan vir die werk om ʼn seldsame voëlspesie in Nieu-Seeland op te pas.

Ongeveer 1 400 mense van oor die hele wêreld het die afgelope weke aansoek gedoen om ʼn pos as beskermer van die Haast tokoeka, ʼn seldsame soort kiwi wat aan die weskus van die land se Suid-eiland voorkom. Daar is tans net 500 van dié skaam, fynbesnaarde voëlsoort in die land en dit is nie maklik om hulle op te spoor nie.

Die departement van bewaring in Nieu-Seeland het verlede maand die pos begin adverteer en kandidate van tot Finland, Roemenië, Paraguay en selfs Suid-Afrika het nou al aansoek gedoen om die pos.

Wayne Costello, bedryfsbestuurder van die departement, het gesê die groot getal aansoeke was oorweldigend.

“ʼn Hele paar aansoeke van oor die wêreld het op my Instagram-rekening en op WhatsApp ingestroom.”

Voornemende kiwi-kykers se aansoeke het aanvanklik stadig ingekom, maar later begin instroom toe dit bekend word dat die werk behels dat die werknemer heeldag en aldag in die mooi natuurskoon van die dorp Haast sal deurbring.

As deel van hul pligte sal die suksesvolle kandidaat in die natuur stap, in helikopters en straalbote ry en oor die algemeen die natuurskoon geniet.

Die sperdatum vir aansoeke is tot einde Oktober verleng en Costello het gesê die lys is verklein tot 40 of 50 geskikte kandidate.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Hou ons my mense daar weg. Hulle sal die diere uitsmokkel en in Asië verkoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.