Apollo 11-ruimtevaarder sterf op 90

Michael Collins, die ruimtevaarder wat die Apollo 11-ruimtetuig beman het, is in die ouderdom van 90 dood. (Foto: Eric Baradat / AFP)

Michael Collins, die ruimtevaarder wat die Apollo 11-ruimtetuig in 1969 beman het, is Woensdag in die ouderdom van 90 dood ná ’n stryd teen kanker.

Dit is nie duidelik waar hy dood is of watter soort kanker hy gehad het nie.

Collins het in ’n wentelbaan gevlieg terwyl sy mederuimtevaarders, Neil Armstrong en Buzz Aldrin, vir die eerste keer in die geskiedenis van die mensdom op die oppervlak van die maan geloop het. Dit is juis weens dié lang vlug wat Collins alleen voltooi het, dat hy as die “eensaamste mens in die geskiedenis” gedoop is.

Collins het egter in 2019 gesê dat hy nooit eensaam was nie, maar die alleentyd geniet het en lekker koffie en musiek gehad het om hom besig te hou.

Sy grootste bekommernis was egter of Armstrong en Aldrin veilig sal wees en dat hulle met mekaar herenig sou word.

Al drie ruimtevaarders het die reis suksesvol voltooi en ná afloop hiervan die Amerikaanse presidensiële medalje van vryheid ontvang.

“Mike het altyd die uitdagings van die lewe beleefd en nederig aangepak. Só was dit ook met sy finale uitdaging,” het sy familie op Twitter geskryf.

Hoewel Collins nooit dieselfde mate van beroemdheid as Armstrong en Aldrin verower het nie, is hy as lewenslange kampvegter vir ruimteverkenning geloof.

Pres. Joe Biden het hom as “gelyke vennoot” beskryf en gesê dat hy steeds die Amerikaanse nasie aan die belangrikheid van samewerking in die bereiking van belangrike doelwitte herinner.

Aldrin het ook ’n huldeblyk aan Collins op Twitter gebring.

“Liewe Mike, waar ook al jy was of gaan wees, sal jy altyd die vuur binne jou hê om ons tot nuwe hoogtes te voer en die toekoms in te lei. Ons sal jou mis. Mag jy in vrede rus.”

Ná ’n lang politieke loopbaan het Collins saam met sy vrou, Pat, in Florida afgetree. Sy is in 2014 dood.

In ’n onderhoud met die Amerikaanse nuuskanaal Fox News in 2019 het Collins gesê dat hy ’n stil lewe lei en selde aan Apollo 11 dink.

“Wanneer ek saans in die straat stap en oor my skouer na die silwer splinter agter my loer, dan dink ek: ‘O, dis die maan! Ek was daar!’”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

OW ·

Die eerste maanlanding en eerste hartoorplanting sal seker vir altyd die beroemste geskiedenis van die mensdom wees,tot iets dalk groter vermag word.Net die tyd sal leer.RIV.

hondbyt ·

Neil Armstrong (1930-2012)—Apollo 11
Edwin “Buzz” Aldrin (1930-)—Apollo 11
Charles “Pete” Conrad (1930-1999)—Apollo 12
Alan Bean (1932-2018)—Apollo 12
Alan B. Shepard Jr. (1923-1998)—Apollo 14
Edgar D. Mitchell (1930-2016)—Apollo 14
David R. Scott (1932-)—Apollo 15
James B. Irwin (1930-1991)—Apollo 15
John W. Young (1930-2018)—Apollo 10 (orbital), Apollo 16 (landing)
Charles M. Duke (1935-)—Apollo 16
Eugene Cernan (1934-2017)—Apollo 10 (orbital), Apollo 17 (landing)
Harrison H. Schmitt (1935-)—Apollo 17

groenboer ·

Ses Apollo-sendings het suksesvol op die maan geland : Apollo 11, 12, 14, 15, 16 en 17. (Apollo13 het nooit die maan bereik nie a.g.v. moleste aan boord). Elke Apollo-sending het drie ruimtevaarders gehad, waarvan twee op die maan geland het. Dus het daar tot dusver altesaam twaalf mense op die maan se oppervlak gewandel. Nogal ‘n eksklusiewe klub!

Eclectus ·

Ek was 5 jaar oud op Beaufort Wes met die eerste maanlanding. Ek sien nou nog in my geheue hoe ek in die sterk skemer na die maan staar nadat die ouer dogtertjie oorkant die straat my ingelig het dat haar onderwyser sê daar is nou mense op die maan. Na ‘n deeglike studie van die maan het ek haar baie duidelik laat verstaan sy praat strooi, ek sien niks. Nou ja, dit terwyl oom Michael al om die groot kaas wentel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.