Australië eersdaags weer oop vir toeriste

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Joey Csunyo/Unsplash)

Toeriste sal binnekort Australië vir die eerste keer in amper twee jaar kan besoek, aangesien een van die langste reisbeperkings weens die Covid-19 pandemie oor ʼn paar weke opgehef sal word.

Die Australiese eerste minister, Scott Morrison, het Maandag aangekondig dat buitelandse toeriste wat ten volle ingeënt is vanaf 21 Februarie weer die land mag besoek.

“Dit is amper twee jaar sedert ons die besluit geneem het om die grense van Australië te sluit,” het Morrison ná ʼn vergadering met die nasionale veiligheidskabinet gesê.

“As jy dus ingeënt is, sien ons uit om jou in Australië te verwelkom.”

Australië se grense is in Maart 2020 gesluit in die hoop om die land teen die gevreesde Covid-19-virus te beskerm.

Vir die duur van die pandemie is Australiërs verbied om internasionaal, of selfs plaaslik, te reis en slegs ʼn handjievol besoekers het sedert die aanvang van die pandemie vrystellings gekry om die land binne te kom.

Die reisbeperkings het talle Australiese burgers oorsee gestrand gelaat, gesinne verdeel, die land se multimiljarddollar toeristebedryf gekniehalter en verskeie debatte en betogings oor Australië se status as ʼn moderne en vrye nasie veroorsaak.

Volgens die Australiese kamer van koophandel en nywerheid het ondernemings ʼn geraamde $2,6 miljard (meer as R40 miljard) verloor vir elke maand wat die land se grense gesluit was.

Die afgelope paar maande is die land se rigiede reëls geleidelik verslap vir alle Australiërs, langtermyn-inwoners en studente.

Ten spyte van Morrison se jongste aankondig sal reise binne Australië se grense egter steeds beperk word.

Dele van Wes-Australië sal steeds vir meeste inwoners ontoeganklik wees. Dit is nog nie duidelik wanneer die oortollige beperkings eindelik opgehef sal word nie.

ʼn Aantal lande bly steeds vir toeriste gesluit, waaronder Japan, China, Nieu-Seeland en verskeie eilande in die Stille Oseaan. Dit terwyl die res van die wêreld gretig is om hul buitelandse toeristemark weer op die been te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pofadder ·

Ek wed jou hulle het water en krag en beheer oor hulle grense.

Johannes_64 ·

En nou gaan almal in elk geval die Omikron weergawe opdoen.

Hendrik ·

Nee wat Australie sien my nooit. Liberale lande is my doodsteek.

Mercia ·

Wie sal wil waag om soontoe te gaan?! Hulle het van Covid ‘n vreesaanjaende heksejag gemaak! Weet nie hoe sal enigiemand daar vry of veilig voel nie.

Marius ·

Nee wat australië, hou jul deure eerder toe, niemand mis julle nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.