Australië stuit bou van Russiese ambassade op parlement se voorstoep

(Argieffoto: Facebook)

Australië het Rusland gekeer om sy nuwe ambassade in die skadu van die Australiese parlementsgebou op te rig nadat intelligensie-amptenare gewaarsku het dat dit ʼn gevaar vir spioenasie en veiligheid inhou.

Rusland het ʼn huurooreenkoms vir ʼn stuk grond sowat 400 m van Australië se parlementsgebied in Canberra en is reeds besig om die fondasies van sy nuwe ambassade te lê. Nadat hy nie die ontwikkeling in die howe kon stuit nie, het die Australiese regering Donderdag nuwe wetgewing deurgevoer wat spesifiek opgestel is om die konstruksie te stuit.

Anthony Albanese, Australië se eerste minister, sê die wetgewing is blitsig saamgestel ná ʼn vergadering van Australië se nasionale veiligheidskomitee.

“Die regering het baie duidelike sekuriteitsaanbevelings gekry oor die gevaar wat die nuwe Russiese teenwoordigheid só naby aan die parlementsgebou inhou,” sê Albanese.

“Ons spring om te verseker dat die huurooreenkoms nie ʼn formele diplomatieke teenwoordigheid word nie.”

ʼn Russiese diplomaat het in die lig van die aankondiging gesê “die ambassade win ʼn regsmening in”.

Die nuwe wetgewing verhoed Rusland nie om ʼn diplomatieke teenwoordigheid in Australië te handhaaf nie – dit keer die land net om ʼn gebou so naby aan die parlement op te rig.

Die wetgewing maak ook voorsiening vir moontlike finansiële vergoeding weens die besluit.

Vaardig, aggressief

Dennis Desmond, ʼn teenintelligensie-kenner en voormalige FBI-agent, sê dit was billik om te vermoed dat Rusland die beoogde ambassade as ʼn basis sou gebruik om op Australiese politici te spioeneer.

“Die besluit om ʼn ambassade op ʼn sekere plek te plaas het uiteraard baie spesifieke bedoelings,” sê hy.

“Daar is ʼn verskeidenheid tegnieke en taktieke wat hulle sal gebruik.”

Desmond sê dit sluit in seinintelligensie en die agtervolging van Australiese amptenare.

Alex Bristow, ʼn voormalige Britse diplomaat verbonde aan die Australiese instituut vir strategiese beleid, sê die regering het waarskynlik ʼn “uitdruklike” waarskuwing van intelligensie-agentskappe ontvang.

“Gegewe die ligging kan dit ʼn vorm van elektroniese waarneming wees wat uit die ambassade bedryf word,” sê hy.

“Rusland het van die grootste, vaardigste en aggressiefste intelligensiedienste – wat ook die minste beperk word – ter wêreld.

“En hulle word beweegruimte gegee wat ons nooit aan ʼn Westerse intelligensiediens sou gee nie.”

Albanese sê hulle verwag ʼn mate van teenstand uit Rusland.

“Ons verwag nie dat Rusland in ʼn posisie is om oor internasionale wetgewing te praat nie, gegewe sy verwerping daarvan so deurlopend en so ooglopend met die inval in Oekraïne,” sê hy.

Ooreenkoms opgeskort

Rusland het die stuk grond in 2008 ingevolge ʼn ooreenkoms met die National Capital Authority, ʼn federale departement, bekom en toestemming om met bouwerk te begin is in 2011 toegestaan.

Die plan is om die ambassade te verskuif van sy huidige ligging; ʼn kolos van ʼn baksteengebou in ʼn onmoderne deel van die stad met ʼn uitsig oor ʼn begrafnisondernemer, ʼn kroeg en ʼn vulstasie.

Bouwerk verloop nie te vinnig nie en die perseel is steeds besaai met rommel en boumateriaal.

Hoewel die Australiese regering aanvanklik gemaklik met die plan was, is daar sedertdien geskarrel om die bouwerk te stuit terwyl verhoudings te midde van Rusland se inval van Oekraïne versuur het.

ʼn Vorige poging om die huurkontrak op te skort is verlede maand in ʼn federale hof van die hand gewys, wat aanleiding gegee het tot wetgewing oor nasionale veiligheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar gebeur deesdae eienaardige dinge in Australië se parlementêre gebou. Veral die geluide uit die kantore…

kaplyn ·

en heel moontlik belastingbetalers se geld gebruik het om die ambassade VIR Rusland te bou, sowel as om so “ietsie” (‘n groot ietsie) by te sit vir die ANC kaders.

Christoffel ·

Mense in glashuise moet nie klippe gooi nie. VSA spioeneer die meeste soos Snowden onthul het en Australië doen dieselfde

Marcello ·

Puik Australië, wil jy nie bietjie ook vir die ANC kom wakker maak nie. …..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.