Babavreugde vir Britse koninklikes

Prinses Beatrice en Edoardo Mapelli Mozzi op hulle troudag in Julie 2020. (Foto: Twitter/@RoyalFamily)

Prinses Beatrice, oudste dogter van prins Andrew en Sarah Ferguson, die hertogin van York, het Saterdag aan ʼn dogtertjie geboorte geskenk.

Die Britse koningshuis het pas dié babanuus aangekondig.

Dit is Beatrice (33) en haar man, die eiendomsmagnaat Edoardo Mapelli Mozzi (36), se eersteling.

“Haar koninklike hoogheid, prinses Beatrice, en mnr. Edoardo Mapelli Mozzi, is verheug om aan te kondig dat hul dogter op Saterdag 18 September 2021 om 23:42 in die Chelsea en Westminster-hospitaal in Londen gebore is,” lui die koninklike aankondiging.

Die baba weeg sowat 2,8 kg. Haar naam is nie bekend gemaak nie.

“Die nuwe baba se grootouers en oorgrootouers is almal in kennis gestel en is verheug oor die nuus. Die familie wil graag die hospitaalpersoneel bedank vir hul wonderlike sorg.”

Volgens die aankondiging sien die egpaar uit daarna om hulle dogter voor te stel aan haar boetie, Christopher Woolf (5), uit Mapelli Mozzi se vorige verhouding met Dara Huang.

Prinses Beatrice en Mapelli Mozzi is in Julie verlede jaar in die All Saints-kapel in Windsor getroud.

Prinses Beatrice se jonger suster, prinses Eugenie (31), het in Februarie vanjaar die lewe geskenk aan ʼn seun, August. Sy is getroud met die sakeman Jack Brooksbank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Misky ·

Sy trek darem vreeslik baie na haar ma!!! Pragtig en baie geluk met die kleine babatjie

Niklaas ·

Nog goeie brokkie nuus van die Britse koningsgesin . Nog ‘n kleinkind vir Andrew en Fergie . Hoop net nie Meghan Markle lees dit nie. Dan gaan sy dringend werk maak daarvan om weer in die kalklig te wees , iets waarna sy heeltyd smag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.